Oud-Potchefstromer woeker op wêreld se tennisbane

’n Oud Potchefstromer, Gimmie en Mooirivier leerder het onlangs op die wêreld se top tennisbane naam gemaak toe sy ‘n silwermedalje in die ITF Wêreldbeker tennistoernooi vir jong veterane in Miami in ‘n dubbelspel behaal het. Ohmar Fernandes (nooiensvan Barnard) het in die vroue 35-50 afdeling hierdie prestasie vir SA behaal, tesame met haar dubbelsmaat, …

’n Oud Potchefstromer, Gimmie en Mooirivier leerder het onlangs op die wêreld se top tennisbane naam gemaak toe sy ‘n silwermedalje in die ITF Wêreldbeker tennistoernooi vir jong veterane in Miami in ‘n dubbelspel behaal het.
Ohmar Fernandes (nooiensvan Barnard) het in die vroue 35-50 afdeling hierdie prestasie vir SA behaal, tesame met haar dubbelsmaat, Jackie Booth van Kaapstad. In die enkelspel het Ohmar 16de uit 64 deelnemers gekom terwyl sy ook saam met ‘n ander spanmaat, Anthea Hurley ‘n sesde plek behaal het.
Volgens Ohmar was haar derde wêreldbekertoernooi weer ‘n gulde geleentheid om SA te verteenwoordig.
“In die individuele dubbels het ek en my spanmaat, Jackie Booth in die finaal verloor en toe het ons ‘n silwermedalje gekry. Die groen klei oppervlak waarop ons gespeel het, was ook baie stadiger as die harde bane waaraan ons in Afrika gewoond is,” sê Ohmar.

Ohmar Fernandes in aksie by die ITF Wêreldbeker in Miami. Foto: Verskaf
Ohmar Fernandes het SA by die ITF Wêreldkampioenskappe in Miami verteenwoordig
Ohmar Fernandes (links) en haar dubbelsmaat, Jacqueline Booth, wat ‘n silwermedalje by die ITF Veterane Wêreldbeker Tennistoernooi in Miami vanaf 21-26 Oktober behaal het.

“Ons het teen Spanje verloor in die groepsrondte voordat ons teen Brasilië en Latvië gewen het. In die uitspeelposisie (5-8) het ons Kanada gewen en teen Duitsland verloor, wat ons algeheel 6de uit 16 lande laat eindig het.” Ohmar is die jongste dogter van die bekende Potchefstromers, Johan en Rechta Barnard wat in die negentigerjare in Mooirivier en Gimmies op skool was.
Hulle ander kinders, Hanli, Johan, Adri en Carin het ook tennis in hul are. Johan se tweelingdogters, Zani en Lee Barnard het verskeie ITF-toernooie regoor die wêreld gespeel en presteer. Hulle studeer met beurse aan die Tenessee Universiteit in Murfreesborow. Volgens Ohmar se pa, Johan Barnard, ‘n oud-NWU dosent en senior lektor in ingenieurswese, het Ohmar nog altyd ‘n groot liefde vir tennis gehad en is hy bly dat sy steeds die spel geniet.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version