Video: Jong wêreldkampioenboogskut is in die kol

Hy hou sy oog sekuur op die teiken, neem dan in een beweging ‘n pyl uit sy sak en posisioneer dit op sy tradisionele boog. Met intense konsentrasie op sy gesig stuur hy dan die pyl soos ’n geprogrammeerde missiel na die teiken vir nog ‘n kolskoot. Dan besef jy waarom Jonathan Immelman (11) ‘n …

Hy hou sy oog sekuur op die teiken, neem dan in een beweging ‘n pyl uit sy sak en posisioneer dit op sy tradisionele boog. Met intense konsentrasie op sy gesig stuur hy dan die pyl soos ’n geprogrammeerde missiel na die teiken vir nog ‘n kolskoot.
Dan besef jy waarom Jonathan Immelman (11) ‘n wêreldkampioen boogskut is. Dié graad 5-leerder van Laerskool Mooirivier en lid van die Marksman Archery Boogskietklub het al sy teenstanders uit die veld geskiet by die onlangse Wêreld Veldboogskiet Kampioenskappe wat vanaf 8 tot 12 Oktober by Elgro River Lodge plaasgevind het.

Immelman het met sy eersteplek in die tradisionele welpie-kategorie nou ‘n wêreldkampioen in sy ouderdomsgroep geword en dit is iets waaroor die jong mannetjie in die wolke is.

Foto’s: Wouter Pienaar

Jonathan Immelman (11) is 'n wêreldkampioen in veld boogskiet nadat hy by die Wêreld Veldboogskiet Kampioenskappe wat vanaf 8 tot 12 Oktober by Elgro River Lodge gehou is, 'n eersteplek behaal het. Foto’s: Wouter Pienaar
“Ek is baie bly oor die wen, en dit was eintlik nie so moeilik nie. Ek het op die derde dag die beste geskiet nadat ek die eerste twee dae reeds ver voor was,” vertel Immelman, wat nog net vyf maande tradisionele boogskiet beoefen. Immelman het 1534 punte aangeteken en die ander teenstanders met 250 punte en meer geklop.

“Die beste aspek van boogskiet vir my is om te kyk hoeveel keer ek die bull (kol) kan tref. Ek probeer ten minste twee keer in ’n week skiet en oefen,” sê Immelman, wat voor die kompetisie daagliks geoefen het om seker te maak dat hy slaggereed is.

Sy fiksheid is juis in die bloedige son getoets waar hy oor die vyf dae van die kompetisie vir sowat 50 km altesaam na die 28 teikens op die baan geskiet het. Immelman se vaardigheid vir die sport kom natuurlik na vore en is ‘n talent wat veral in die gene loop met sy ouer boeties, Nicholas (14) en Christopher (13) wat ook aan boogskiet deelneem.
Net soos Nicholas, neem Jonathan ook aan berede boogskiet deel waar deelnemers van ‘n perd se rug af met ‘n pyl en boog skiet. “Ek sal graag ook nog aan die SABA 100 3D skietkompetisie by Manzini wil deelneem,” vertel Jonathan, wat met sterre in sy oë na ‘n blink toekoms in dié sport kan uitsien.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version