Photo GalleriesSportSportSports Galleries

Volkies gereed vir eindstryd môre teen Rustenburg

Dit was eenrigting verkeer die afgelope Saterdag (13 Oktober) in die Noordwes Skolekrieket halfeindstryd toe Hoër Volkskool Potchefstroom se Jannie Claassens soos ‘n stoomroller met beide kolf en bal die eerste krieketspan na ‘n 118 lopie oorwinning teen Potchefstroom Gimnasium gelei het. Volkies se eerstespan het ‘n totaal van 293 almal uit aangeteken voordat Gimmies …

Dit was eenrigting verkeer die afgelope Saterdag (13 Oktober) in die Noordwes Skolekrieket halfeindstryd toe Hoër Volkskool Potchefstroom se Jannie Claassens soos ‘n stoomroller met beide kolf en bal die eerste krieketspan na ‘n 118 lopie oorwinning teen Potchefstroom Gimnasium gelei het. Volkies se eerstespan het ‘n totaal van 293 almal uit aangeteken voordat Gimmies vir 175 almal uitgeboul is.

Claassens spog met boulsyfers van 5/25 in 10 boulbeurte waar hy met sy eerste paar balle amok gesaai het om Gimmies op ‘n stadium op 7/4 kniediep in die moeilikheid te hê. Dit nadat hy Gimmies se eerste drie kolwers (Zavier van der Westhuizen, Gerhard Turkstra en Frans Viviers) almal vir nulletjies kleedkamer toe gestuur het.

Vroeër het Volkies besluit om eerste te kolf nadat hulle die loot gewen het en 293 almal uit aangeteken. Ondanks die val van drie Volkie paaltjies in die eerste 10 beurte was dit duidelik dat aanval die beste vorm van verdediging was, veral toe Jannie Claassens met 60 (38) ingeklim het.

Claassens het wel met een verbroude mokerhou sy doppie geklink toe hy op die grens uitgevang is vanaf Robert Cameron se boulwerk.

Met hierdie momentum het Volkies se Awie Visser met 65 (43) en Christopher de Freitas met 46 (50) weer Volkies op dreef gehou. ‘n Puik vennootskap tussen Waldu Kotze (35 van 40) en Lucian Coakley (28 van 23) in die laaste paar boulbeurte het verseker dat Volkies goed eindig.

Gimmies se kolwers kon net nie die druk op die dag hanteer nie en ‘n puik Volkie boulaanval het enige swakplekke vinnig ontbloot. André Taljaard was weer ekonomies met 1/39 in 9 boulbeurte, terwyl die res van die boulaanval ook hulle kant gebring het. Vir Gimmies het Robert Cameron (33 van 75) en Duan Jansen (47 van 64) probeer herstel en het met bestendige kolfwerk Volkies vir eers gestuit. Toe De Freitas, Jansen se paaltjie vat, was oorwinning in sig vir Volkies.

Martin Landman (26) en Dawie Röntgen (26) het op die einde eer probeer herstel maar teen daardie tyd was die koeël reeds deur die kerk.

*Volkies se eerstespan maak nou gereed om komende Saterdag (20 Oktober) teen Hoërskool Rustenburg in die eindstryd te speel en hulle titel te verdedig. Volkies sal natuurlik die gunsteling wees, maar eindstryde is altyd onvoorspelbaar en nie veels kan op papier beoordeel word nie.

Hierdie wedstryd begin om 09:00 by Volkskool.

Foto’s: Wouter Pienaar

Related Articles

 
Back to top button