Volkies en Gimmies baklei vir plek in eindstryd hierdie Saterdag

Vir die eerste keer in die afgelope drie seisoene van die Noordwes Skole Krieketliga gaan Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom mekaar nie in die eindstryd aanvat nie. Hulle gaan eerder ‘n stap voor dit in die halfeindstryd hierdie Saterdag 13 Oktober, kragte meet op Volkies se velde. Dit is die tweede keer in net …

Vir die eerste keer in die afgelope drie seisoene van die Noordwes Skole Krieketliga gaan Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom mekaar nie in die eindstryd aanvat nie.
Hulle gaan eerder ‘n stap voor dit in die halfeindstryd hierdie Saterdag 13 Oktober, kragte meet op Volkies se velde. Dit is die tweede keer in net meer as ‘n maand dat Volkies en Gimmies se eerstespanne mekaar aanvat en soos gewoonlik, kan ’n taai stryd verwag word wat enige kant toe kan gaan.

Die vorige keer toe hierdie twee spanne ‘n veld gedeel het, het Volkies ook net-net met 2 paaltjies ‘n oorwinning beklink. Gimmies sal natuurlik wil opmaak vir daardie een en Volkies se kanse vir ‘n tweede agtereenvolgende titel ook uit die weg ruim.
Volkies speel wel vanjaar kookwater krieket en na hulle uitstekende Noord-Suid T20-toernooi is daar ‘n paar spelers wat hoog op selfvertroue is. Van Zyl Smit,

Jannie Claassens en Martin Fourie is maar van die kolwers wat Saterdag ‘n groot impak kan maak. Volkies sit wel sonder hulle voorste lopiemaker, Christiaan Bester, wat beseer is. Vir Volkies sal hulle draaiers weer die meeste van die boulwerk uitvoer, met André Taljaard en Smit en Awie Visser wat Gimmies se kolwers sal wil ontwrig. Die terugkeer van Timothy Malan bied ook nog ‘n sterk boulopsie vir die tuisspan. Goeie nuus vir Gimmies is dat een helfte van die Jansen-tweeling, Duan, weer terug is nadat hy die vorige tweestryd teen Volkies gemis het. Duan sal vir Gimmies diepte met sy boul- en kolfwerk bied en sy insluiting sal die gemoedere in die Gimmie-kamp hoog hou. Sy broer, Marco, mis wel weer uit, aangesien hy vir die NW Dragons in sy eerste eersteklas wedstryd gaan uitdraf.

Op die kolffront sal Ricus Swart, Robert Cameron en Francois Viviers weer goeie lopies wil maak. Martin Landman kan ook skade aanrig en hy sal sy goeie boulvorm wil voorsit in hierdie moet-wen wedstryd.
Die vraag is wie van beide Volkies en Gimmies hulle hande Saterdag die hoogste gaan opsteek.
Spanne:
Volkskool:
Martin Fourie, Awie Visser, André Taljaard, Waldu Kotze, Lucian Coackley, Van Zyl Smit, Jannie Claassens, Timothy Malan, Ervie Griesel, Jaco Viljoen en Christopher de Freitas
Potch Gimnasium:
Duan Jansen, Adriaan Röntgen, Dawie Röntgen, Simpiwe Mkwanazi, Robert Cameron, Ricus Swart, Gerhard Turkstra, Francois Viviers, Marinus Pienaar, Landré Halgryn, Martin Landman en Zavier van der Westhuizen

Exit mobile version