NWU studente roei goud los

Drie studente van die NWU Kanoklub het die naweek van 15-16 September ’n gouemedalje losgeroei in die VKB Liebenbergsvlei-kanomarathon.

Drie studente van die NWU Kanoklub het die naweek van 15-16 September ’n gouemedalje losgeroei in die VKB Liebenbergsvlei-kanomarathon.
Dié resies oor twee dae dek sowat 63km en het vanjaar gedien as die slagveld vir die 2018 K3-kampioenskappe. Leo Kerkhoff, Manfredd Nieuwoudt en Tegan Lion-Cachet het in die o.23 kategorie meegeding en het die afstand in ‘n tyd van 4:24:38 afgelê.
Die Liebenbergsvlei-kanomarathon (tussen Reitz en Frankfort in die Vrystaat) is uniek onder rivier resies in Suid-Afrika omdat dit ‘n interessante kombinasie van stroomversnellings en plat water bied.
Dag een is bekend vir ‘n groot verskeidenheid stroomversnellings, van skerp, vinnige draaie, tot lang brandertreine en selfs ‘n paar plekke waar die roeiers met hul bote oor keerwalle moet roei wat so hoog as 1.5 meter se val tot gevolg het. Die geringste fout in hierdie stroomversnellings kan etlike minute by die rentyd voeg, of soms selfs die einde van die roeier se resies beteken weens gebreekte toerusting.
Dag twee daarenteen, is slegs energietappende plat water soos die rivier deur die Vrystaatse vlaktes kronkel en dit is hier waar stamina en korrekte styl die voorlopers van die agterosse onderskei. Die NWU se wenspan het albei dae sonder enige probleme afgehandel.
Nog 12 ander lede van die NWU Kanoklub het die marathon voltooi. Die klub se volgende groot geleenthede is die provinsiale kanopolo-toernooi van 29 September in Potchefstroom en daarna die Visrivier Kanomarathon in Oktober, waar hulle gaan meeding teen die ander universiteite in die land se roeiers vir die USSA-kampioenskappe.

Exit mobile version