Volkies se eerstespan losskakel haal Ierland-toerspan

Die belowende eerstespan losskakel van Hoër Volkskool Potchefstroom, Stephan van Niekerk, het na ‘n rits puik prestasies vanjaar rugbykeurders se oë gevang en is vir ‘n oorsese toer vanaf 1-10 Oktober na Ierland gekies. Van Niekerk is in die o.18 ITEC Suid-Afrikaanse toerspan ingesluit wat die maatskappy Travelsport aanbied. Op hierdie toer sal spelers van …

Die belowende eerstespan losskakel van Hoër Volkskool Potchefstroom, Stephan van Niekerk, het na ‘n rits puik prestasies vanjaar rugbykeurders se oë gevang en is vir ‘n oorsese toer vanaf 1-10 Oktober na Ierland gekies.

Van Niekerk is in die o.18 ITEC Suid-Afrikaanse toerspan ingesluit wat die maatskappy Travelsport aanbied. Op hierdie toer sal spelers van die bekendste stadions in Ierland besoek en aan top gehalte afrigting blootgestel word. Daar sal ook drie toerwedstryde gespeel word, wat fantastiese ervaring vir ‘n jong skolespeler soos Van Niekerk sal wees. Die groot dilemma is wel die kostes wat Van Niekerk se gesin sal moet dek, wat ongeveer R33 340 beloop.

“Vir my gaan dit om ervaring te kry en te sien hoe rugby in ander lande gespeel word. Dit is regtig ‘n droom om gekies te word en dit is ‘n groot voorreg,” noem Van Niekerk, wat al sedert  laerskoolvlak in Koster die droom het om rugby ‘n loopbaan te maak.

Hierdie graad 11-leerling was ongelukkig om nie vir die Luiperds se Cravenweek of Akademiespanne gekies te word nie, maar hy het nietemin sy talent ten toon gestel vir die Luiperds by die VKB-week in Reitz, waar hy as die beste losskakel, beste agterspeler en beste speler van die toernooi aangewys is. Hy het ook 16 uit 19 skoppe oorgeklits vir ‘n 84% slaagsyfer.

“Dit was regtig vir my ‘n goeie toernooi en ek is dankbaar dat ek my beste kon gee en raakgesien kon word,” sê Van Niekerk, wat ook die Sharks Rugbyakademie se aandag getrek het.

Van Niekerk, wat onder leiding van die voormalige Springbok losskakel, André Pretorius by Volkies uitblink, het vanjaar vir sy skool ook uitstekend gespeel en sy voortvarendheid op die aanval met bal in hand en met sy skopvoet in druksituasies bewys.

“Coach André het regtig ‘n groot verskil gemaak vandat ek by sy iSkills program in graad agt betrokke geraak het. Hierdie jaar in Volkies se eerstespan speel ons ook as broers saam, wat dinge lekker maak.

Ons speel om rugby te geniet,” noem hy. Die befondsing van sy toer na Ierland word in paaiemente betaal, met die finale bedrag wat teen 25 Augustus betaal moet word om sy plek op die vliegtuig te verseker. Om ‘n bydrae tot Van Niekerk se toer te maak, kan daar donasies in die volgende rekening betaal word:

Absa, S. van Niekerk, rekeningnommer: 9341395347, Mooirivier.

Belangstellendes kan ook aanlyn geld bydra op sy Backabuddy-profiel by https://www.backabuddy.co.za/invitational-rugby-tour

Exit mobile version