SportSport

Duiwe sorg weer vir groot lugaksie vanaf Jamestown

Die Potchefstroom Posduifklub het twee naweke gelede met ‘n afstand van 435km vanaf Hopetown gevlieg. Die duiwe is met ‘n sterk Suidwestewind aangehelp en het ‘n hoë snelheid van 1551.5m/min bereik. In die jaaroud-afdeling het Eddy Bondesio se duif ‘n breuk van 6 minute oopgemaak om sodoende ‘n eerste plek in die klub asook die …

Die Potchefstroom Posduifklub het twee naweke gelede met ‘n afstand van 435km vanaf Hopetown gevlieg. Die duiwe is met ‘n sterk Suidwestewind aangehelp en het ‘n hoë snelheid van 1551.5m/min bereik.

In die jaaroud-afdeling het Eddy Bondesio se duif ‘n breuk van 6 minute oopgemaak om sodoende ‘n eerste plek in die klub asook die unie te vlieg. Nic Stassen se duiwe behaal die 3de, 4de en 5de plekke, met Sarel Naudé se duiwe in die 6de en 10de plekke. Riaan en Elmarie se duiwe neem 5de, 6de en 7de plekke in.

In die ope-afdeling verras Arrie Marais se duif. Met ‘n snelheid van 1579.4m/min verower hy die eerste plek in die klub sowel as die unie met slegs een sekonde. Kirsten Hokke se duiwe neem die 2de en 7de plekke in, terwyl Arrie Marais se duiwe 3de, 11de, 13de, 16de en 17de plekke inneem. Sarel Naudé se duiwe bly konstant en behaal 4de, 14de en 15de plekke.

In die afgelope naweek se wedvlug vanaf Jamestown (7 Julie) het mooi weer duiwe begroet. Dit was duidelik dat Nic Stassen se duiwe lekker gevlieg het met ’n eerste plek in die jaaroud-afdeling. Hier het Stassen ook 5de, 6de, 8ste en 9de plekke behaal. Salty en Lettie behaal ‘n welverdiende tweede plek, met Kirsten Hokke wat ’n derde posisie behaal.

In die ope-afdeling woeker Sarel Naudé se duif met ’n eerste plek. Riaan en Elmarie se duif moet met tweede plek in hierdie afdeling tevrede wees, terwyl Piet Greyling die laaste podium plek verwerf. Eddy Bondesio se duifies rus ook nie op hulle louere nie en eindig in vierde en sesde plekke.

By die Mooirivier Resiesduifklub het Johan Schlebusch se duifies omtrent skoonskip in die jaaroud-afdeling gemaak met 1ste, 2de, 3de, 4de, en 5de plekke. Die eerste duif het ‘n gemiddelde spoed van 91.2 kilometer per uur behaal. Willem Moolman behaal die 6de, 7de en 8ste plekke, met JJ van Wyk & Seuns wat die 9de en 10de plekke beklee.

In die ope-kategorie verras JJ van Wyk & Seuns met ‘n welverdiende eerste plek, sowel as 7de en 9de plekke. Haupt Lofts vat die tweede posisie met Willem Moolman wat die derde plek in- neem. Vir die eerste keer vanjaar is Schlebusch se duiwe buite die top drie posisie en hy moet tevrede wees met 4de plek.

In verlede naweek se vlug vanaf Jamestown het die Mooirivier Resiesduifklub se Johan Schlebusch ook weer amok gemaak en die top vier plekke in die jaaroud-afdeling geneem. Schlebusch vat ook die sewende en agtste posisie.

Willem Moolman neem die 5de, 6de, 9de en 10de posisies met puik vertonings.

In die ope-afdeling vat Haupt Lofts ‘n welverdiende eerste plek in hierdie 490 kilometer wedvlug. Moolman se duiwe behaal 2de, 3de en 4de plekke met Fanie & Familie se duiwe wat ook hulle stelling inneem met puik 5de en 6de plekke.

Schlebusch is wel steeds voor in die algehele en jaaroud-afdelings met Moolman wat steeds ‘n eerste plek beklee in die ope-afdeling.

https://www.nbcarsales.co.za/
https://www.nbcarsales.co.za/

Related Articles

Back to top button