Hendrik Truter sprei sy vlerke na die Kaap

Na omtrent twee dekades verlaat ’n bekende Potchefstromer, Hendrik Truter, die NWU en sy geliefde Fanie du Toit Sportgronde waar hy groot voetspore gelos het. Truter was die pasaangeër vir die organisasie van die NWU se Varsitybekerwedstryde op Maandagaande wat ‘n unieke instelling in Potchefstroom en landwyd geword het met die beste en kleurrykste voorprogram …

Na omtrent twee dekades verlaat ’n bekende Potchefstromer, Hendrik Truter, die NWU en sy geliefde Fanie du Toit Sportgronde waar hy groot voetspore gelos het.
Truter was die pasaangeër vir die organisasie van die NWU se Varsitybekerwedstryde op Maandagaande wat ‘n unieke instelling in Potchefstroom en landwyd geword het met die beste en kleurrykste voorprogram onder die son.
Vir die nederige Truter gaan alles oor die bou van hegte familiebande in die gemeenskap en dit is voorwaar ‘n getuigskrif wat hy saam met hom sal dra wanneer hy vir oulaas groet. ‘n Mens hoef net te kyk na hoeveel mense hom op ‘n daaglikse basis groet, om te weet hoe ’n groot deel hy van die dorp geword het.
“Mense se ondersteuning in die dorp maak dit net maklik. Jy het mense leer ken en ‘n pad saam met hulle gestap. Vir my was dit nooit werk nie.
Enige ou sou dit begeer om vir werk te kon gholf speel of ‘n rugbytoets te gaan kyk.”

Hendrik Truter is een van Potchefstroom se bekendste inwoners en hierdie rugbyman en sportliefhebber gaan nou na die Kaap verhuis waar hy die Wes-Kaapse bemarker by die koeldrankmaatskappy, Twizza, gaan wees.

Hy glo dat hy dit nooit alleen sou kon vermag nie en dat daar talle rolspelers op sy pad deur die jare gestuur is.

Truter gaan aan die einde van die maand Potchefstroom verlaat en na die Kaap verhuis waar hy vir die koeldrankmaatskappy, Twizza, in die Wes-Kaap-tak as area-bestuurder gaan werk.
Twizza is tans betrokke as ‘n borg by talle skolesporte in Suid-Afrika en Truter sal nou fokus om hierdie nuwe uitdaging ook met net soveel passie aan te pak.
Sy vrou, Odette, gaan eers in Potchefstroom agterbly as oogkundige en haar prakyk sal soos normaal voortgaan.
“As ek die volgende 10 jaar dieselfde genot gaan hê as wat ek in Potchefstroom ervaar het sal ek meer as bly wees.
Ek voel dat ek na 18 jaar in Potchefstroom gedoen het wat ek kon en dit sou later meer net ‘n roetine geraak het,” noem hy.

Dit het alles begin by ’n koerantberig
Hendrik Truter se verbintenis met Potchefstroom het op ‘n interessante wyse begin toe daar ‘n berig in die Potchefstroom Herald verskyn het dat Truter vir die destydse Wes-Transvaal sou speel.
Dit was nog voordat Truter enige direkte kontak met die rugbyunie gehad het.
Truter se vrou, Odette het toe weens dié berig ‘n werksaanbod by Carl Grobler Oogkundiges gekry.
Truter het toe wel by die destydse Wes-Transvaal as speler betrokke geraak.
Een van die projekte, interessant genoeg, waaraan Truter saam met Jan Fourie, destydse president, gewerk het was om die “Castle Corner” en die losies op Olënpark te bou.
In 2001, toe die NWU Rugbyinstituut begin het, het Duitser Bosman en André Markgraaff vir Truter genader en die res is ‘n kleurryke geskiedenis.
Volgens Truter was die groot mikpunt om die gemeenskap van Potchefstroom soveel as moontlik betrokke te maak.

Hendrik Truter saam met sy kinders in Kaapstad.
Hendrik Truter saam met die NWU se bekende gelukbringer, Pukki, by een van die baie Varsitybekeraande waarby hy betrokke was. Foto: Verskaf

Talle manne-aande en gholfdae was deel van die groot suksesresep agter die bemarking en blootstelling van die NWU en die rugbyinstituut.
“Die manne-aande was ook vir Truter ongelooflik. Die ondersteuning en genot op die mense se gesigte was iets wonderlik.”
Volgens Truter het Duitser Bosman ook ‘n groot aandeel gehad in die sukses van die Varsitybeker met dié dat hy altyd groter gedink het.

Die idee agter Varsitybekeraande op die Fanie begin in Amerika
Truter het die lang pad na die Verenigde State van Amerika saam met die Varsitybeker-bestuur in 2009 aangedurf om juis te kyk hoe die Amerikaners hulle beroemde voorprogramme by sportgeleenthede aanbied.
“Ons was in Nebraska en ek het daar by die universiteit se sportbyeenkomste gesien hoe hulle die publiek betrek. Ek het probeer om dieselfde gemeenskapsbetrokkenheid in Potchefstroom te bereik en dit het dadelik net gewerk. Almal het by die idee ingekoop.
Die een idee het op die ander gevolg en gewerk. Van die skiet van die kanon voor die afskop tot die gebruik van rasieleiers en trompoppies.
“Ek is trots op wat ek in die jare by die Varsitybeker gedoen het, maar almal het ook hulle eie idees gehad en wou graag hulle inisiatief bring. Ek het baie pret gehad en vir my was dit altyd ‘n vertoning wat amateurs gereël en aangebied het, maar vir die mense daar buite ‘n professionele ervaring gegee het.
“Voor die Varsitybeker begin het, was daar nie iets soos ’n mascot (gelukbringer) nie. Dieselfde met ‘n voorprogram by rugbywedstryde. Dis nou al vanselfsprekend.
Dit alles het in Potchefstroom begin,” sê hy.

Te veel herinneringe om op te noem
Elke aanbieding van die Varsitybeker was vir my ‘n hoogtepunt. Elke keer was daar iets uniek daaraan verbonde. Daardie 2014 Varsitybeker-eindstryd teen UCT wat ons ongelukkig 39-33 verloor het, glo ek het Potchefstroom verder bekend gemaak.
“Ek onthou daardie aand wat ons verloor het nog goed. Die destydse visie-kanselier, dr. Theuns Eloff het nog 7 minute voor die einde na my toe gekom en gesê dat ons die wedstryd gaan wen. Toe verloor ons daardie wedstryd. Dis maar hoe rugby werk.
Die NWU se eerste Varsitybekerwen in 2016 op Stellenbosch was vir Truter ook baie spesiaal.
“Dit was die eerste keer in ‘n rugbywedstryd waar ek vir die volle 80 minute in my stoel bly sit het,” vertel hy.
Wie kan dan ook die hordes manneaande, gholfdae en byeenkomste vergeet waar Truter ook ‘n groot hand in gehad het?
“Elke manne-aand was spesiaal. Ek onthou ons het een aand vir Morné du Plessis, Bok van Blerk en Nico Nel gehad en teen half twee die oggend het Nico steeds grappe vertel.
Dit is sulke oomblikke wat goeie herinneringe bring.”
Vir Potchefstroom sal Truter, of Hendrik soos almal hom ken, altyd ‘n spesiale plek in sy hart hê – die plek waar mense hom aangeraak en waar mense letterlik na hom opgekyk het.
“Daar was nog altyd net seëninge gewees. Potchefstroom is diep gewortel in my,” vertel Truter met ’n traan in sy oog.

https://www.nbcarsales.co.za/
Exit mobile version