SportSport

Alles is op die spel tydens Classic Clash

Daar is seker min dinge so belangrik in Potchefstroom soos die FNB Classic Clash tussen Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom. Potchefstroom Gimnasium bied hierdie naweek die Gimmie-Volkie of Volkie-Gimmie naweek aan (afhangend aan watter kant die belange is) met die groot rugbywedstryde wat op die Fanie du Toit Sportgronde op Saterdag 26 Mei gaan …

Daar is seker min dinge so belangrik in Potchefstroom soos die FNB Classic Clash tussen Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom.

Potchefstroom Gimnasium bied hierdie naweek die Gimmie-Volkie of Volkie-Gimmie naweek aan (afhangend aan watter kant die belange is) met die groot rugbywedstryde wat op die Fanie du Toit Sportgronde op Saterdag 26 Mei gaan plaasvind. Die aksie begin reeds op Vrydag 25 Mei met netbal en hokkie wat sportliefhebbers se monde sal laat water. Oudergewoonte gaan die Classic Clash weer Potchefstroom in twee spesifieke kampe verdeel.

Aan die Suidekant is die rooi, geel en swart troepe van Volkies wat met Arendsvlerke gaan wil sweef. Aan die Noordekant is die wit, blou en grys Gimmie-bataljon wat met Ankers, Pikke en Grawe hulle trofeekas met meer glans en glorie wil versterk. Die grootste prys is wel meer as net ‘n trofee – dis spogreg.

Gimmies se bul van 'n haker, Hans Laufs, gaan met sy stromlope groot skade Saterdag wil aanrig
Gimmies se bul van ‘n haker, Hans Laufs, gaan met sy stromlope groot skade Saterdag wil aanrig.

Natuurlik word die publiek se vingers altyd in die rigting van die eerste rugbyspanne gewys as daar na ‘n suksesvolle Classic Clash vir een van dié skole, verwys word. Dit is die rede hoekom oupas en oumas, voormalige leerders, onderwysers, ouers en die man op die straat net een vraag op ‘n Saterdagaand het: “Wie het die eerstespan rugbywedstryd gewen?”

Die onbegonne taak om hulle spanne vir 70 minute wenrugby te laat speel sit in die hande van die ervare en patriotiese oud-Gimmie Bertus Pool, hoofafrigter van Gimmies, sowel as Daan Seymore, Johan Herbst en Christo van Heerden, hoofafrigters van Volkies, wat al sinoniem met Volkies Rugby oor die jare heen is.
Albei spanne het genoeg skietgoed om hulle teenstanders seer te maak. Gimmies se sterkpunte lê in hulle spandinamika, vreeslose lostrio sowel as hulle vlugtige agterspelers. Kyk uit vir manne soos flanke, Anelka “Yster” Barends, Giovanni Pestana en haker, Hans Laufs wat vreesloos soos ’n bull-terrier op sy opposisie toesak.

Volkies se gevaarlike heelagter, Le Roux White, het 'n neus vir die drielyn
Volkies se gevaarlike heelagter, Le Roux White, het ‘n neus vir die drielyn

Aan Volkies se kant sal die skopvoet van losskakel, Stephan van Niekerk, een van die groot pluspunte vir sy span wees. Hy is ook flink met bal in die hand en as hy spasie vir Gustav Erlank en Le Roux White kan skep, sal hierdie spoedvrate die gate kan uitbuit. Volkies se agtsteman, Jacques Gouws en flank, Marno Prigge kan ook Saterdag naam maak.
Een ding is seker – as die haan Sondagoggend kraai, gaan een skool aan glorie smul en die ander eerder ‘n bitter pil sluk. Die eerstespan se rugbywedstryd skop om 12:45 af.

AJR

https://www.nbcarsales.co.za/

Related Articles

 
Back to top button