Die geheim agter NWU spoedvrate se sukses

Vanjaar is die NWU-atletiekklub se spoedvrate die ene witblits met Varsity Atletiektitels en tye wat saam met die bestes in die land gereken kan word. Die trio van Lente Pieterse, Chederick van Wyk en Ariane Nel het vanjaar nuwe spoedgrense verskuif en onder hulle afrigter, Werner Burger, se leiding is daar ’n geloofwaardige gegons oor …

Vanjaar is die NWU-atletiekklub se spoedvrate die ene witblits met Varsity Atletiektitels en tye wat saam met die bestes in die land gereken kan word.
Die trio van Lente Pieterse, Chederick van Wyk en Ariane Nel het vanjaar nuwe spoedgrense verskuif en onder hulle afrigter, Werner Burger, se leiding is daar ’n geloofwaardige gegons oor dié atlete. Potchefstroom Herald het met Burger gesels oor die afgelope seisoen se sukses:
1) Wat het vanjaar die meeste uitgestaan van jou groep naellopers hierdie seisoen?
Die konstante verbetering by my atlete. Hulle tye vergelyk nou met die heel bestes in die land.
2) Beste oomblik van die seisoen vir jou?
Ek wil nie ‘n spesifieke atleet uitsonder nie en gelukkig hoef ek ook nie, aangesien almal deel was van die groot hoogtepunt. Ons het geskiedenis gemaak by die tweede Varsity Atletiekbyeenkoms vanjaar toe beide naellopers, Lente en Chederick die 100 meter gewen het. Chederick het die 200 meter ook gewen en Ariane het goud in die 400 meter gekry. Verder het die NWU se mans-aflosspan ook goud gekry.
3) Hoe lank rig jy die atlete af?
Ariane (4 jaar), Chederick (4 jaar) en Lente (2 jaar)
4) Grootste uitdaging hierdie seisoen?
Die atlete se klasroosters, aangesien meeste van hulle aptekerswese studeer en geen vrye tyd bedags het nie. Ons moet baie vroeg soggens of saans oefen. Beserings is natuurlik ook ‘n uitdaging. Seer voete, spiere en gewrigte moet verkieslik nie in die pad van ‘n medalje staan nie.
5) Hoofdoel as afrigter?
Om elke atleet se talent tot die maksimum te ontgin en te ontwikkel. Ek wil belowende atlete graag in die subjunior-fase al begin afrig (dus op laerskool) en dan ‘n pad met hulle stap tot aan die einde van hoërskool en universiteit.
As atlete van jongs af biomeganies afgerig word, is dit soveel makliker om later hulle volle potensiaal te bereik.

NWU-Atletiekklub se spoedvrate het die seisoen ongelooflike sukses behaal. Van links is: Lente Pieterse, Werner Burger (afrigter), Ariane Nel en Chederick van Wyk. Foto: Verskaf
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version