Luiperds kry nie steun van stadsraad

Die gebrek aan samewerking van die plaaslike JB Marks stadsraad teenoor die Luiperds Rugbyunie het dit genoodsaak dat die Luiperds Olënpark verlaat. Volgens die Luiperds Rugbyunie se president, André May, is finansiële en veiligheidsredes die grootste kwelpunte nadat die stadsraad die afgelope twee jaar versuim om die ooreengekome minimale bydrae tot die onderhoud en instandhouding …

Die gebrek aan samewerking van die plaaslike JB Marks stadsraad teenoor die Luiperds Rugbyunie het dit genoodsaak dat die Luiperds Olënpark verlaat.
Volgens die Luiperds Rugbyunie se president, André May, is finansiële en veiligheidsredes die grootste kwelpunte nadat die stadsraad die afgelope twee jaar versuim om die ooreengekome minimale bydrae tot die onderhoud en instandhouding van Olënpark te betaal.
Die gebrekkige verhouding het juis begin wankel toe die destydse PSL (Premier Sokkerliga) span, Jomo Cosmos, Olënpark met die Luiperds in 2015 gedeel het.
“Ons regte as huurders by die stadsraad is geïgnoreer.
Daar is ook verwag dat Jomo Cosmos omtrent verniet moet speel en die onderhoud van Olënpark het ons verantwoordelikheid gebly. Dit ook verskeie praktiese probleme veroorsaak, veral waar wedstryde gebots het,” noem May.
“Fakture wat ons aan Cosmos gestuur het is ook nooit vereffen nie en ons het besef dat hier nie ‘n manier is om iets uit te sorteer nie.
“Ons ervaring van die stadsraad is dat onderhandelinge gedurig op ‘n dooie punt uitloop,” vertel May van n klomp faktore wat hierdie ooreenkoms bemoeilik het.

Die stadsraad se woordvoerder, Willie Maphosa, het wel ’n ander deuntjie gesing en noem dat die munisipaliteit gewillig is om met die Luiperds Rugbyunie te onderhandel.
“Die kontrak maak nie voorsiening vir die munisipaliteit om die Unie enige geld te betaal nie. Die munisipaliteit het egter gereeld die stadion onderhou.”
Maphosa noem verder dat onderhandelinge met die Luiperds rondom Olënpark as ‘n meerdoelige sportstadion gesentreer was.
“Ons is nie in kennis gestel dat hulle gaan vertrek nie, alhoewel ons met hulle in gesprek was.
“Ons betrokkenheid by die Unie is gemik op die omskakeling van die stadion tot ‘n veeldoelige fasiliteit. Ons wil hê die fasiliteit moet oop wees vir verskeie sportkodes.”

’n Groot faktor vir die skuif volgens May is die gebrek aan ‘n vereiste veiligheidsertifikaat, omrede daar nie genoeg fondse is om die nodige herstelwerk aan die oostelike pawiljoen te doen nie.
“Weens die sny van ons begroting deur SARU met ongeveer 52% kan ons nie die nodige herstelwerk aan die oostelike pawiljoen aanbring nie. Die gevolg is dat ons geen toeskouers op die oostelike pawiljoen kan toelaat nie,” noem May.
Dit is interessant om juis te dink dat hierdie oostelike pawiljoen wat soveel goeie herinneringe van talle rugbyspelers en ondersteuners deur die jare gebring het, nou een van die redes vir die Luiperds se skuif is.
“My herinneringe van Olënpark is positief. Ek kan as speler onthou hoe ons in ‘n era gespeel het wat die oostelike pawiljoen vol was.
“Dit was een van die velde waar toerspanne besef het dat hulle nie kom vir ‘n maklike wen nie.
“Die realiteit is dat toeskouergetalle oral afneem en hier by Olënpark kry ons omtrent 200-400 toeskouers per wedstryd, wat nie die koste daaraan regverdig nie.
“Ons uitgawes in die stadion alleen was meer as R1 miljoen.”
Die Luiperds se bestaande huurkontrak met die stadsraad verstryk op 30 Junie 2019 en May noem dat daar besluit is om proaktief te wees en ander opsies te oorweeg.
“Ons het ‘n fantastiese ooreenkoms met die Noordwes- Universiteit en as gevolg van gedeelde belange met spelers en afrigters is dit die logiese keuse.
“Sodoende gaan ons al ons plaaslike wedstryde in Potchefstroom by die Fanie du Toit Sportgronde speel. Verseker sal ons die rugby na ‘n mark vat wat meer toeganklik is.
“Dit is uit die aard van die saak hartseer en sleg om te dink dat ons van Olënpark moet skuif, maar kan ons nie die finansiële realiteite ignoreer nie en moet saam met die tye leef. Ek dink ons sal die skuif maak werk in samewerking met die NWU.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version