Claassens en Fourie moker groot hondertalle in Volkies se wen teen Monnas

Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan was die afgelope naweek in ‘n lopiefees betrokke teen Hoërskool Monument waar daar altesaam ‘n verstommende 765 lopies aangeteken is. Volkies het op die ou einde die wedstryd met 15 lopies gewen nadat hulle eerste gekolf en 390/8 aangeteken het. Monnas het hulle bes probeer en 375 almal uit …

Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan was die afgelope naweek in ‘n lopiefees betrokke teen Hoërskool Monument waar daar altesaam ‘n verstommende 765 lopies aangeteken is.

Volkies het op die ou einde die wedstryd met 15 lopies gewen nadat hulle eerste gekolf en 390/8 aangeteken het. Monnas het hulle bes probeer en 375 almal uit aangeteken nadat dit amper gelyk het of hulle Volkies se reuse telling sou verbysteek.

Jannie Claassens was vernietigend met sy kolf en het 127 lopies van slegs 59 balle gemoker. Hy het Monnas se boulers pap geslaan met 13 sesse en 7 viere in sy beurt. Martin Fourie het meer gematig gekolf en ook ‘n uitstekende beurt van 122 (132) geslaan wat 13 viere en 2 sesse ingesluit het.
Volkies se uitstekende kolfvertoning kan aan ‘n puik 126 lopie openingsvennootskap tussen Fourie en Christiaan Bester (46 van 61 balle) toegeskryf word met Claassens wat die kersie op die koek gesit het.

Monument het nie teruggestaan nie en het gou die bal na elke hoek van die veld gemoker om na 11 beurte op 106/1 en na 22 beurte op 193/3 te staan met ‘n blitsvinnige lopietempo van 9.65 per boulbeurt.
Volkies se veldwerk en puik vangskote van Jaco Viljoen en Van Zyl Smit het toe Monument se momentum gebreek. Claassens (2/62) en Taljaard (3/65) het toe die laaste paaltjies geneem om Volkies oor die lyn te dra.

Dit was ‘n monumentale terugvegpoging van Volkies in ‘n wip-wa stryd, veral nadat Monnas in ‘n stadium nog net 45 van 42 balle met 4 paaltjies oor, nodig gehad het. Vir Monnas was Ethan Klassens 111 (74) en Dylan Lukes 76 (39) uitstaande en het vir groot vermaak in Pretoria gesorg. Die bal het net ongelukkig nie na hierdie twee kolwers se kant toe geswaai op die dag nie.

Volkies se o.15-A span het ‘n gemakliker oorwinning as die eerstespan gehad toe hulle Monument se o.15A’s vir net 143 uitgeknikker het. Stephan Fourie (3/22) en John van Wyk (2/22) was Volkies se top boulers. Volkies se kolwers het toe spoedig die teiken behaal met Niël van Vuuren 59* (71) en Reuben Malan 57 (69) wat die lopies in 25.1 beurte slaan en gevolglik met ‘n bonuspunt wen.
Sodoende is Volkies se o.15A-span steeds die voorlopers in Finsbury A-liga met nog een wedstryd oor teen Hoërskool Centurion die komende naweek.

Martin Fourie wys sy tegniese kolfvernuf met sy 122 (132) teen Hoërskool Monument.
Jannie Claassens en Martin Fourie was absoluut verwoestend met die kolf vir Volkies se eerstespan teen Menlopark verlede Saterdag.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version