Krieketdrome het die afgelope naweek vir Gimmies se talentvolle krieket-tweeling, Marco en Duan Jansen waar geword, toe hulle vir twee dae in die nette vir Indië se nasionale krieketspan geboul het. Indië is tans op toer in Suid-Afrika en was besig om vir die derde toets teen Suid-Afrika op die Wanderers in Johannesburg voor te berei.
Sodoende het hierdie tweeling sowel as Ronald Hendricks, ook van Gimmies se eerste krieketspan, die kans gekry om vir van die wêreld se topspelers soos Virat Kohli, Rohit Sharma en KL Rahul te boul.
Dié onmisbare Jansen-tweeling het toe sommer ook die Indiese koerante gehaal nadat hulle die toerspan se kaptein, Kohli, beïndruk het. Na aanduiding van die dekking wat die tweeling in Indië se koerante en krieketwebtuistes soos cricbuzz.com en wisdenindia.com ontvang het, het hierdie twee veelsydige spelers duidelik hulle kans met altwee hande aangegryp.