Spiesgooi vir die jongspan

Jong laerskoolatlete kan nou aan hul spiesgooivaardighede skaaf, danksy die Turbo Javelin, ‘n kleiner plastiese spies met ‘n rubber punt, wat beide veiligheid en vaardigheid aanskerp.

Dit is die skepping van Amerikaner, Tom Petranoff, ‘n voormalige dubbel wêreldrekordhouer in spiesgooi. Dit is hoofsaaklik ontwerp om jong atlete die kans te gee in spiesgooi en die tegniek met ‘n ligter spies te beoefen en onder die knieg te kry sodat die oorgangsfase na die groter spies gemakliker is.
Volgens spiesgooi afrigter, NWU spiesgooi atleet en voormalige SA Skole spiesgooi kampioen, Erich Wiese, is hierdie die perfekte manier om spiesgooi in die land te laat groei en ‘n liefde vir spiesgooi aan te wakker.
“Persoonlik is dit vir my nie ‘n plaasvervanger vir spiesgooi nie, maar dit is ‘n goeie begin vir spiesgooi as atletiekitem. Ek dink dit is wat die sport gaan verder bring,” noem Wiese.
Volgens Wiese kan atlete vanaf die ouderdom van 8 jaar reeds met Turbo Javelin’s aan die o.9 kategorie deelneem. “Die o.9’s gooi met 300 gram en o.11’s gooi met 400 gram, terwyl die spiese waarmee laerskoolleerders begin, 500 gram is. Sodoende is dit ‘n stelselmatige opgradering tot op daardie gewig met ‘n regte spies,” noem Wiese.
Ouers kan ook met die nodige gemoedsrus weet dat hierdie Turbo Javelin-spies nie gevaarlik is nie en die risiko wat met hierdie sport gepaard gaan, vir die jongspan uitsluit.
“Met die Turbo Javelin fokus ons baie op die korrekte tegniek, eerder as om groot afstande te kry. Vir ‘n afrigter is die baie makliker om ‘n kind deur die sisteem te vat as die atlete reeds op o.12 spiesgooikennis het. Dit skep ‘n liefde vir spiesgooi,” noem Wiese verder.
Wiese rig tans een keer per week af saam met sy atlete by Laerskool Saamtrek in Klerksdorp.
Vir nadere besonderhede kan hy by 082 655 6475 gekontak word. Besoek ook sy Facebookblad by: AthleticsUnlimited

Exit mobile version