Potchefstroom Swemklub steeds die onoorwonne streekkampioene

Potchefstroom Swemklub pronk steeds trots op die wenpodium na die afgelope Noordwes swemklub-kampioenskappe wat tydens die naweek van 23-25 September in die Hartbeespoortdam gehou is. Dit is nie die eerste keer dat dié verdedigende swemklub koning kraai teen 15 ander Noordwes swemklubs nie en is hulle as Noordwes se swemklub-kampioene aangewys. Swemmers van Potchefstroom swemklub …

Potchefstroom Swemklub pronk steeds trots op die wenpodium na die afgelope Noordwes swemklub-kampioenskappe wat tydens die naweek van 23-25 September in die Hartbeespoortdam gehou is.
Dit is nie die eerste keer dat dié verdedigende swemklub koning kraai teen 15 ander Noordwes swemklubs nie en is hulle as Noordwes se swemklub-kampioene aangewys. Swemmers van Potchefstroom swemklub het nie minder as 13 individuele byeenkomsrekords en een aflos-rekord gebreek nie!
Hierdie wenklub het daarby die uitsonderlike prestasie behaal om met ’n totaal van 78 medaljes (waarvan 37 goud, 23 silwer en 18 brons), bo die ander swemklubs uit te troon.
Die afrigter, Carine Cronje, het aangedui dat elke individuele swemmer skitterende prestasies behaal het. Chazél Orton, die goue meisie van Potchefstroom swemklub, het ses individuele byeenkomsrekords gebreek en met agt goue medaljes weggestap. Bianca Opperman het ook ses goue medaljes losgeswem en drie individuele byeenkomsrekords laat spat.
Die jong Scarlett Botes (slegs 7 jaar oud) het twee rekords gebreek en spog met drie goue en een brons medalje. Alexia Delicado skitter met vier goue, een silwer en een brons medalje.
Aiden Nel staan breë bors met sy vyf goue en een silwer medalje en spog daarby ook met ’n splinternuwe rekord.
Nog ’n trotse medalje-wenner is Janco Bartleman (drie silwer en brons). Wian Bartleman skitter met goue medaljes en sy broer Ewald Bartleman met twee goue en twee brons medaljes. John-Thomas Botha en Botha du Toit het elkeen ’n brons medalje gewen. Idelé du Toit verower nie minder as ses silwer en een brons medalje nie.
Pieter-Jacq du Toit wen een silwer medalje, Theo Ferreira een goud en twee silwer medaljes, René Kotzé twee brons medaljes, Mathilda Liebenberg een brons medalje en Ilze Nolte een silwer medalje.
Nina Slaughter verower twee goue en twee brons medaljes, terwyl William-Stephen Slaughter met twee goud, een silwer en drie brons medaljes en Tumé van Niekerk met twee silwer medaljes om die nek spog. Dié swemklub is baie trots op elke swemmer en veral op die spanpoging wat elkeen aangewend het om as waardige en verdienstelike wenners uit die stryd te tree.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version