Beserings spook by Luiperds voor dié naweek se kragmeting met Boland

Die pragtige rugbylandskap van Montagu se King Edward Sportgronde in die Boland wag komende Saterdag 14:00 vir die Luiperds. Die Potchefstromers sal ook met skilderagtige spel ’n blywende indruk wil maak, maar iets wat die prentjie beduiwel is ’n slotkrisis wat tans by die Luiperds heers. Luiperds afrigter Jonathan Mokuena het Dinsdag genoem dat drie …

Die pragtige rugbylandskap van Montagu se King Edward Sportgronde in die Boland wag komende Saterdag 14:00 vir die Luiperds.

Die Potchefstromers sal ook met skilderagtige spel ’n blywende indruk wil maak, maar iets wat die prentjie beduiwel is ’n slotkrisis wat tans by die Luiperds heers.

Luiperds afrigter Jonathan Mokuena het Dinsdag genoem dat drie erkende slotte die wedstryd sal misloop. Walt Steenkamp, Loftus Morrison en Stairs Mhlongo herstel nog van beserings. Dis iets wat Luiperds sal laat kopkrap omdat die lynstane verlede week al gesukkel het.

Die Luiperds het die afgelope Vrydag op Olënpark amper op hulle neuse teen SWD Arende in ‘n 42-42 uitslag gekyk.

Albei spanne kon die wedstryd wen. Die Luiperds het danksy ’n drie van Jeandré Rudolph en ’n strafskop van Gerhard Nortier, met vyf minute oor, die kastaiings uit die vuur gekrap nadat die Arende voorgeloop het.

“Ek is bly oor die impak waarmee my span gespeel het en die intensiteit was daar. Ongedwonge foute bly ‘n probleem en die Arende het dit tot hul voordeel gebruik,” het Luiperds breier, Jonathan Mokuena na die wedstryd gesê.

Dissipline en paniek in wedstryde bly ‘n punt van kommer by die Luiperds. Henko Marais is met ‘n geelkaart afgestuur en die Arende het in daardie tydperk twee drieë gaan druk.

“Daardie geelkaart het by die lynstane begin toe ons nie ons eie bal kon wen nie. Van daar af maak ons ongedwonge foute omdat paniek intree. Dit gaan belangrik wees om by die basiese wedstrydplan te hou en nie in ‘n paniek in te gaan nie,” sê Mokuena.

Die Boland Kavaliers kan nie onderskat word nie. Na hulle die OP met 40-27 gewen het is hulle sterte in die lug. Boland se staatmakers was flank Ludio Williams en die blitsige regtervleuel, Charlie Mayeza wat twee drieë elk gedruk het.

Luiperds teen Boland: Tapiwa Mafura, Jimmy Mpailane, Bradley Moolman, Gene Willemse; Gerhard Nortier, Chriswill September; Jeandré Rudolph, Marno Redelinghuys, Gideon van der Merwe, HP Swart, Boela Venter, Panda Dekker, Dane van der Westhuysen, Joe Smith. Reserwes: Chukkie van der Westhuizen, Morné Strydom, Ruan Venter, Wandi Mazibuko, Hugo Kuhn, Schalk Hugo, Elden Schoeman.

Gene Willemse van die Luiperds op pad na die drielyn met net Leighton Eksteem voor hom.

Exit mobile version