Daly (14) vat vlug as jongste solo-vlieënier in Suid-Afrika

“Ek was in die kajuit vasgegespe vir ‘n gewone alledaagse en roetine vliegsessie terwyl my instrukteur langs die sweeftuig gestaan het. “Die volgende oomblik is die kajuit met my alleen daarin gesluit, terwyl die windas se kabel reeds aan die tuig gekoppel was. Uys Jonker, my instrukteur het glimlaggend na my gekyk en ek kon …

“Ek was in die kajuit vasgegespe vir ‘n gewone alledaagse en roetine vliegsessie terwyl my instrukteur langs die sweeftuig gestaan het.

“Die volgende oomblik is die kajuit met my alleen daarin gesluit, terwyl die windas se kabel reeds aan die tuig gekoppel was. Uys Jonker, my instrukteur het glimlaggend na my gekyk en ek kon net hoor hy sê ‘lekker vlieg’.

“Die volgende oomblik het die tuig onder my begin rammel en in ‘n kwessie van sekondes is dit deur die windas die ruimte ingetrek terwyl die vliegveld onder my klein geword het!”

So vertel Dicky Daly van Potchefstroom wat op 14-jarige ouderdom die jongste sweeftuig solo-vlieënier in die geskiedenis van Suid-Afrika geword het en ’n ondervinding beleef het wat hom die res van sy lewe sal bybly. Dicky het op 12-jarige ouderdom begin sweef, maar die solovlug sê hy, het skielik gekom en hy moes baie nugter dink!

Dicky Daly van Hoërskool Ferdinand Postma is 'n gretige vlieënier.

“Alles het so vinnig en onverwags gebeur, ek was verward en tussen alles wat deur my gedagtes gemaal het, het ek aan my instrukteur Uys Jonker gedink wat seker volle vertroue in my moes gehad het om my los te laat! Toe ek sowat 350 meter bo die grond was het ek die sleepkabel wat aan my tuig gekoppel was, ontkoppel. Ek het toe besef ek is vry!

“Na ’n paar wye sirkels met Potchefstroom ver onder my het ek gereed gemaak en is ’n perfekte landing uitgevoer,” voer Daly aan. Hy sê dat hy uit die hoogte sy pa en Oom Jonker kon sien en die ontmoeting na die landing was groot.

Dicky Daly glimlag breed nadat hy op 14-jarige ouderdom ‘n solorit in ‘n sweeftuig voltooi het.

Daly sê hy wil ’n kommersiële vlieënier word maar dat die pad na ’n privaat vlieglisensie nog lank is. Ondertussen wil hy jongmense aanspoor om in die vliegkuns belang te stel. Hy wil skole besoek en praatjies lewer en wil graag by sy skool, Ferdinand Postma in Potchefstroom begin. Daly praat met groot agting van sy instrukteurs, Uys Jonker, Attie Jonker, Oscar Goudriaan en Oom Rudolph, wat almal bygedra het tot sy sukses as jong sweeftuig-vlieënier wie se entoesiasme geen perke ken nie.

Sweeftuig solovlieg kon voorheen net vanaf die ouderdom van 16 plaasvind, maar is onlangs na 14 jaar verminder en die geleentheid om op die jeugdige ouderdom solo te kon vlieg, het vir Dicky gewuif.

Exit mobile version