SportSport

Gimmies maak maalvleis van Ben Vorster se Buffels

‘n Driekuns van Potchefstroom Gimnasium se binnesenter, Dirkie Louw, het verseker dat sy span se vlam steeds in vanjaar se Virsekerbeker vir Grootskole brand met ‘n 45-27 oorwinning teen Hoërskool Ben Vorster vanoggend op die Mooivallei Sportterrein. Gimmies het van die staanspoor af hulle intensies getoon deur ‘n 19-0 voorsprong te neem danksy drie vinnige drieë …

‘n Driekuns van Potchefstroom Gimnasium se binnesenter, Dirkie Louw, het verseker dat sy span se vlam steeds in vanjaar se Virsekerbeker vir Grootskole brand met ‘n 45-27 oorwinning teen Hoërskool Ben Vorster vanoggend op die Mooivallei Sportterrein.

Gimmies het van die staanspoor af hulle intensies getoon deur ‘n 19-0 voorsprong te neem danksy drie vinnige drieë in die eerste 20 minute. Dit was veral flank, Waldouw Smit, se drie wat die oë laat rek het met ‘n pragtige lopie waar hy sy krag en goeie lyne op die aanval gewys het.

Tog kon die manne van Tzaneen nie onderskat word nie, veral met ‘n gevaarlike agterlyn wat op Gimmies se foute ‘n weg terug in die wedstryd gevind het. Shima Molepo se skitterende individuele drie waar hy sy eie skop ingesamel het, was een van die hoogtepunte om die telling na 19-12 te bring. Slegs vyf minute later is die Vossies se regtervleuel, Camfort Shingange in die hoekie oor en is dit 19-19 met halftyd.

Gimmies het geweet dat hulle in die laaste minute afgeskakel het en met rustyd agter die rug en ‘n paar harde woorde was daar weer energie in die tuisspan se are.

Louw was die speler wat sy stempel afgedruk het en twee vinnige drieë gaan druk het om Gimmies weer te laat glimlag met die telling op 31-19. Aan die ander kant van die spektrum was die klein groepie Ben Vorster ondersteuners duidelik minder in hulle noppies op die pawiljoen toe ‘n ondersteuner “Vossies julle maak droog!” skree.

Kyk die foto’s hier: Foto’s: Wouter Pienaar

Vir Gimmies was Arno Gustafson weer ‘n uitblinker op vasskopstut in sy rooiskrumpet, wat met sy krag sowel as sy goeie hande op die aanval beindruk het.

Plaasvervanger vleuel, Keenan Twigg, se drie en Johan Minnaar se verdoeling met sowat tien minute oor het Ben Vorster finaal laat knak en met ‘n 38-27 voorsprong het Gimmies die hef in die hand gehad.

Louw se drie in die laaste minute was die kersie op die koek vir Gimmies waar hulle in ‘n goeie hardloopwedstryd gewys het dat hulle op alle silinders kan vuur. Louw se vuis in die lug was die finale saluut van oorwinning – iets wat Gimmies se eerstespan vir die res van die Virsekerbeker keer op keer sal wil sien.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button