SportSport

Springbok skepskoplegende wil sy hart vir die gemeenskap in Potch wys

In rugbykringe is die Springbokheld Jannie de Beer sinoniem met die vyf skepskoppe wat hy teen Engeland in die 1999-Wêreldbeker kwarteindstryd oorgeklits het om die Bokke na ‘n 44-21 sege te lei. Nou, 18 jaar later, bevind hierdie losskakel hom in Potchefstroom waar hy met gemeenskapsbetrokkenheid en die jeug geassosieer wil word. Dit is hier …

In rugbykringe is die Springbokheld Jannie de Beer sinoniem met die vyf skepskoppe wat hy teen Engeland in die 1999-Wêreldbeker kwarteindstryd oorgeklits het om die Bokke na ‘n 44-21 sege te lei.

Nou, 18 jaar later, bevind hierdie losskakel hom in Potchefstroom waar hy met gemeenskapsbetrokkenheid en die jeug geassosieer wil word. Dit is hier waar sy hart lê om ander te inspireer met sy roerende getuienis.

“Behalwe vir die finansiële besluit om vanaf Pretoria te verhuis,  sien ek en my vrou Vicky ‘n groot geleentheid om betrokke te raak by ‘n baie ontvanklike gemeenskap. Dit is belangrik om ‘n kultuur van ‘seën’ te skep, aangesien baie mense en veral studente oor hul identiteit twyfel en baie uit stukkende huishoudings kom,” sê De Beer.

Jannie de Beer tydens die 1999 kwarteindstryd teen Engeland in Parys waar hy 'n wêreldrekord van vyf skepskoppe behaal het.
Jannie de Beer tydens die 1999 kwarteindstryd teen Engeland in Parys waar hy ‘n wêreldrekord van vyf skepskoppe behaal het. Foto: Gallo Images

Hy het self in ‘n disfunksionele huis grootgeword en ‘n gebroke verhouding met sy pa gehad.

“Ek het aan die sogenaamde verkeerde kant van die treinspoor grootgeword, waar mense neergekyk het op ons. Ek is dankbaar dat ek die verhouding met my pa in 2004 kon herstel – hy is vier maande gelede oorlede,” sê De Beer terwyl sy twee kinders, Kristen en Divan die vertrek instap en hulself voorstel.

‘n Mens kan juis hier die hegte gesinsband ervaar en sodoende verstaan ‘n mens ook beter waarom De Beer juis so ‘n groot hart vir jongmense het. Dit kom veral na vore wanneer hy oor Kristen (19) se perdry- en netbaltalent en Divan (17) se gholftalent spog.

Albei gaan aan die PUK studeer, wat ook ‘n groot motivering vir die verhuising was. “Divan is ‘n kranige gholfspeler met ‘n voorgee van 5 en is opgewonde oor sy nuwe skool – Ferdinand Postma,” sê De Beer voordat die gesprek onvermydelik na sy eie sportprestasies skuif in die Springboktrui.

“Ek sou graag meer toetse vir Suid-Afrika wou speel, maar ek is tevrede met die 13 toetse wat ek kon speel, veral omdat daar tydens daardie tyd verskriklik baie kompetisie was. Henry Honiball, Hennie le Roux, Joel Stransky, Franco Smith, Braam van Straaten en nog ‘n klomp ander het in dieselfde era losskakel vir die Bokke gespeel.”

Wêreldbekerguns vir De Beer

De Beer, wat sy toetsdebuut in 1997 teen die Britse en Ierse Leeus gemaak het, was die nommer twee keuse as losskakel vir die wêreldbeker, maar het as gevolg van Henry Honiball se dyspierbesering meer speelkans gekry as wat hy verwag het. Hy beskou dit as ‘n wonderwerk dat hy in die 1999-Wêreldbekertoernooi gespeel het, aangesien hy glad nie in Nick Mallett se planne was nie, omdat hy in Engeland vir London Scottish gespeel het.

Jannie de Beer is in Potchefstroom waar hy graag 'n verskil in die gemeenskap wil maak. Hier is hy saam met sy vrou Vicky en twee kinders, Divan (17) en Kristen (19).
Jannie de Beer is in Potchefstroom waar hy graag ‘n verskil in die gemeenskap wil maak. Hier is hy saam met sy vrou Vicky en twee kinders, Divan (17) en Kristen (19).

“My vrou het in 1998 ‘n droom gehad dat Nick my gaan bel en sê dat ek in die Wêreldbekerspan ingesluit is.

Dit was belaglik, want in daardie stadium het ek ‘n drie jaar kontrak by London Scottish gehad tot en met 2001. London Scottish het egter in Julie 1999 saamgesmelt met London Irish en Richmond, gevolglik is my kontrak gekanselleer. “Ek het toe ‘n kontrak gesluit met Manchester Sale wat in November (na die Wêreldbeker) sou begin.

Ek was verplig om terug te keer Suid-Afrika toe en het vir Vrystaat gaan speel om intussen ‘n inkomste te verdien.”

Na slegs vier wedstryde vir Vrystaat het Mallett vir De Beer gebel en die res is geskiedenis.

Die hele 1999-Wêreldbeker was vir hom ‘n groot belewenis, waar hy sy geloof en talent ten toon kon stel, veral in die kwart- en half-eindstryde waar sy skopskoen vir ‘n paar kritieke oomblikke gesorg het.

“Baie mense vra my hoe ek voel oor daardie strafskop in die halfeindstryd teen Australië wat ons na ekstra tyd toe gevat het. Ek was baie rustig gewees, want in daardie stadium was ek redelik op vorm en die pale het baie breed gevoel.

Ongelukkig het ons nie gewen nie as gevolg van die ironiese skepskop van Stephen Larkham. Tog sal Joost van der Westhuizen se woorde, ‘of ons wen of verloor, kom ons sê net dankie vir die Here dat ons hier kon wees,’ altyd by my bly na daardie halfeindstryd,” sê hy.

Die pad vorentoe

Na die Wêreldbeker het De Beer vir die Bulle gespeel en toe in Engeland by Saracens gaan aanklop, maar na nog ‘n besering het hy besluit om sy rugbytokse op te hang. Daar was wel nie groot ‘fanfare’ met sy uittrede nie, maar dit pas hom wat in nederigheid lewe en as gelowige sy fokus op ander om hom sit.

“Ons is opgewonde oor hierdie nuwe seisoen in Potchefstroom en sal graag  betrokke raak in die gemeenskap deur ‘n kombinasie van motiveringspraatjies, seminare, werkswinkels en afrigting. Ek is ook betrokke by ‘n maatskappy wat spesialiseer in voeding en rondom dit is daar baie gemeenskapsgeleenthede.

My vrou is ‘n arbeidsterapeut en sal graag as locum wil werk. Sy voltooi haar kwalifikasie as berader aan die einde van die jaar. Sy’t ook ‘n hart vir vroue en bied weeklikse kuns-joernaalgroepe aan. Ons wil in die gemeenskap betrokke raak en ‘n verskil maak,” sê hy.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button