SportSport

Lichtenburg wéér Noordwes Grootskolewenners in taai stryd teen Gimmies

In ‘n wipwa Virsekerbeker eindstryd vir Noordwes Grootskole het Potchefstroom Gimnasium se eerstespan teen Hoërskool Lichtenburg net-net die onderspit met 25-22 vanmiddag op die Mooivallei Sportgronde gedelf. Dit was ‘n wedstryd wat enige kant toe gegaan het en een wat Gimmies heel moontlik kon wen het as hulle takties wyser en meer konsekwent was teen …

In ‘n wipwa Virsekerbeker eindstryd vir Noordwes Grootskole het Potchefstroom Gimnasium se eerstespan teen Hoërskool Lichtenburg net-net die onderspit met 25-22 vanmiddag op die Mooivallei Sportgronde gedelf.

Dit was ‘n wedstryd wat enige kant toe gegaan het en een wat Gimmies heel moontlik kon wen het as hulle takties wyser en meer konsekwent was teen ‘n Lichtenburg span wat krake in hulle verdediging gewys het.

Lichtenburg se groot held was hulle skrumskakel, Max Williamson wat twee belangrike drieë vir die besoekers in die hoekies aan beide kante van die veld net voor en net na rustyd gaan druk het. Williamson was rats en skerp en het sy span se agterlyn gereeld die nodige momentum gegee.

Aan Gimmies se kant was Dirkie Louw vuur en vlam met twee drieë, terwyl Waldow Smit se kraglopies in die nommer 7 trui ook vermelding kry. Gimmies is met 15-12 voor teen halftyd en dinge het rooskleurig gelyk.

Dit was voordat Lichtenburg se regtervleuel blits, Bertru Jones in die hoekie gaan druk het om sy span ‘n voorsprong te gee wat hulle nie laat gly het nie.

Lichtenburg se losskakel en kaptein, Lohann Jahns het nie die beste dag met die skopskoen gehad nie, met slegs ‘n 25 persent slaagsyfer, maar heelagter Ruben Kotze het met ‘n groot strafskop van omtrent 45 meter geslaag om Lichtenburg ‘n belangrike 25-15 voorsprong te gee in die tweede helfte.

Dit was die doodskoot vir Gimmies wat toe ondanks losskakel Edrich Cronjé se drie in verstreke tyd, met drie punte verloor het.

Met die blaas van die eindfluitjie is Lichtenburg nou vir die tweede agtereenvolgende jaar die bekerwenners en behou die Jacob Wilkens-trofee vir nog ‘n jaar.

Punte:

Potchefstroom Gimnasium: 22 (15)

Drieë: Dirkie Louw (2), Edrich Cronjé

Doelskoppe: Minnaar (2)

Strafskoppe: Johan Minnaar

Hoërskool Lichtenburg: 25 (12)

Drieë: Henco Nel, Max Williamson (2), Bertru Jones

Doelskoppe: Lohann Jahns

Strafskoppe: Ruben Kotze

* Dit was opsommend nie ‘n goeie dag vir Potchefstroomse skole op die rugbyveld nie met al vier deelnemende spanne wat aan die kortste ent teen die besoekers moes trek.

In die o.14 wedstryd het Lichtenburg 19-17 vir Gimmies geklop, Gimmies se o.15’s het 24-12 teen KHS verloor, terwyl Volkies se o.16-span met 19-13 teen KHS verloor het.

Lees meer in hierdie komende week se Potchefstroom herald oor die bepalings in die uitkloprondtes van die Virsekerbeker vir Grootskole. 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button