SportSport

Pukke is katjie van die netbalbaan

Die soet smaak van sjampanje wat NWU-Pukke se USSA-netbalspan na afloop van hulle toernooi-oorwinning in die finaal teen Kovsies verlede Vrydag geproe het, was op vele vlakke simbolies. Die skiet van die kurkprop was eerstens tekenend van dié wenspan se skietvermoë op hulle tuisbaan by die Fanie du Toit Sportgronde waar hulle gedurig hulle teenstanders …

Die soet smaak van sjampanje wat NWU-Pukke se USSA-netbalspan na afloop van hulle toernooi-oorwinning in die finaal teen Kovsies verlede Vrydag geproe het, was op vele vlakke simbolies.

Die skiet van die kurkprop was eerstens tekenend van dié wenspan se skietvermoë op hulle tuisbaan by die Fanie du Toit Sportgronde waar hulle gedurig hulle teenstanders gewys het hoe om punte in druksituasies aan te teken. Dit was veral die geval in die finaal waar Pukke met 43-35 koning gekraai het nadat hulle ‘n 9-0 voorsprong gehandhaaf het. Tweedens, nes die borrelende sjampanje was hierdie span ook ‘n borrelende eenheid van die eerste dag af wat saam as ‘n span gespeel het en duidelik elke minuut op die veld geniet het. Wanneer ander spanne se energievlakke gedaal het, het Pukke s’n merkwaardig gestyg en kon hulle die voortou keer op keer neem. Laastens was die sjampanje die spreekwoordelike teken van feestelikheid en oorvloed vir Puk Netbal – geen ander universiteit kan spog met beide USSA en Varsity Netbal trofeë in hulle besit nie.
Voor die spuit van sjampanje was daar natuurlik ‘n belangrike sestig minute wat Pukke se reis na glorie bestempel het teen hulle tradisionele teenstanders, Kovsies.


Daar was ‘n klomp groot individuele kragmeting op die baan en wie hierdie tweestryde sou wen sou ook natuurlik hulle span na die algehele oorwinning voer. Op senter was Romé Dreyer van Pukke en Tanya Mostert van Kovsies teen mekaar en Dreyer kan trots wees met hoe sy teen die befaamde jonger Mostert (kleinsus van Proteaspeler, Karla) gespeel het. Zandré Erasmus se tweestryd met Alicia Puren van Kovsies was ook eensydig met Erasmus wat keer op keer haar talent as verdediger teen toon gestel het. Voor was Anja Esterhuizen en Jessica du Plessis briljant met hulle akkuraatheid om gedurig hulle kanse te verdoel en die telbord aan die gang te hou. Chanté Bester en Maronel Scherman het ook ‘n interessante kragmeting met voormalige spanmaat Marna Claassens gehad en het die taak met vlieënde vaandels deurgekom.


Pukke afrigter Julene Meyer kan met reg trots wees op haar span wat bo al die ander spanne in dié uitdagende week lange toernooi getroon het.
“Die feit dat ons ‘n baie sterk groep van 12 spelers het, het dit baie makliker gemaak om spelers te ruil en sodoende die heel week speelkans te gee. Dit help altyd in so ‘n taai toernooi waar daar nie maklike wedstryde is nie,” het Meyer verduidelik.


Meyer se opinie is ook dat die vinnige voorsprong in die finaal grootliks tot Pukke se wen bygedra het.
“Kovsies is ‘n baie goeie span waarvoor jy nie moet kanse gee nie. Hulle hou aan veg tot die einde toe. Jy moet balbesit hou en dit het vandag vir ons perfek gewerk. Dit is wonderlik om dit op tuisgrond te kan wen,” het sy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button