Tukkies boender Pukke uit Varsitybeker met vurige vertoning

Soos die son op die Fanie du Toit Sportgronde vanaand gesak het, het Pukke se Varsitybekerdroom ook in mekaar getuimel en met die eindfluitjie was die verdedigende kampioen in sak en as. Tukkies het Pukke se kanse vir ‘n tweede agtereenvolgende Varsitybeker verbrand met ‘n 43-28 oorwinning wat beide klinies en indrukwekkend was, al het …

Soos die son op die Fanie du Toit Sportgronde vanaand gesak het, het Pukke se Varsitybekerdroom ook in mekaar getuimel en met die eindfluitjie was die verdedigende kampioen in sak en as.

Tukkies het Pukke se kanse vir ‘n tweede agtereenvolgende Varsitybeker verbrand met ‘n 43-28 oorwinning wat beide klinies en indrukwekkend was, al het die tuisspan verwoed in die tweede helfte probeer terugveg.

Pukke het hulle alles in die tweede helfte gegee en soos soldate vir ‘n oorwinning probeer veg, nadat hulle alreeds 25-7 teen halftyd agter was. Die ondersteuners op die Fanie du Toit Sportgronde het luidkeels hulle span aangemoedig in die hoop dat ‘n wonderwerk sou gebeur. Ongelukkig vir die skare het hulle laaste wedstryd vanjaar hartseer geeindig.

Dit was werklik ‘n wedstryd van twee helftes en vir Pukke kon sake baie anders gewees het as hulle ‘n beter eerste helfte vertoning ingesit het.

Die spanning was op mespunt in die eerste 5 minute, met Tukkies wat verwoed aangeval het en Pukke wat keer op keer die manne van Pretoria gestuit het.

Tuks se druk het toe uiteindelik getel toe hulle skrumskakel Andre Warner deur Pukke se verdediging gebars het en heelagter Tapiwe Mafura soos ‘n amateur laat lyk het. ‘n Sewepuntdrie vir Tuks wat Tinus de Beer verdoel om die telling 9-0 te maak.

Pukke het wel vinnig terugeveg en na ‘n lynstaanbeweging het hulle soos ‘n trop leeus op Tuks neergesak met Elden Schoeman wat Pukke se welverdiende eerste drie druk. Nou was dit nog drie drieë om te gaan.

Na ‘n kort rusperiode na 20 minute se speeltyd het Tukkies hierdie blaaskans die beste benut en dadelik ‘n drie gaan druk met Clyde Davids wat in die hoek oorduik. Dit was juis Tukkies se gevaarlike agterlyn  wat die grootste hoofpyn vir Pukke gegee het, met Pukke wat soms baie wankelrig op die verdediging gelyk het.

Met 10 minute speeltyd oor in die eerste helfte is Dewald Naude oor om nog verder sout in Pukke se wonde te vryf.

Met halftyd moes Pukkie iets drasties doen om terug in hierdie wedstryd  te kom.

Slot, Walt Steenkamp het nuwe lewe in die Fanie du Toit Sportgronde ingepomp toe hy Pukke se tweede drie onder die pale gaan druk het. Dit het die gaping effens vernou en sy span hoop gegee met die telling wat na 25-14 beweeg het.

Wilmar Arnoldi se drie het toe gemaak dat Pukke nog meer moed gekry het en skielik was dit 28-21 met Pukke was slegs 7 punte agter was. Die spanning was nou weer hoog soos die skaduwee die veld gevul het en die spreiligte die veld begin verlig het.

Tuks se skrumskakel, Warner het nes hy in die eerste helfte gemaak het, weer Pukke se borrel  met ‘n drie gebars en sodoende neem Tukkies weer ‘n stewige 14 punt voorsprong.

Met 14 minute speeltyd oor is Loftus Morrison vir ‘n broodnodige drie oor wat daardie bonuspunt vir Pukke besorg het.

Met die die telling op 38-28 en 10 minute speeltyd oor het Pukke nou  10 punte vir ‘n ongelooflike oorwinning benodig.

Sibahle Maxwane het wel die einde vir Pukke bevestig toe hy met twee minute oorgeduik het vir Tukkies se vyfde drie van die wedstryd.

Vanjaar gaan daar ‘n nuwe Varsitybekerkampioen wees en Tukkies het met hierdie vertoning groot aanspraak daarop gemaak.

Punte:

NWU Pukke: 28 (7)

Strafskoppe:

Doelskoppe:  Hugo (4)

Drie: Elden Schoeman (5) Walt Steenkamp (5), Wilmar Arnoldi (5), Loftus Morrison (5)

Tuks: 43 (25)

Drieë: Andre Warner (7, 5) Clyde Davids (7), Dewald Naude (5),  Sibahle Maxwane (5)

Strafskoppe:  De Beer, Joshua Stander

Doelskoppe: Tinus de Beer (4)

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version