Alles of niks vir Pukke teen Tuks

Prioriteit nommer een vir die Pukke se Varsitybekerkampioene hierdie komende Maandag op die Fanie du Toit Sportgronde is eenvoudig: Druk vier drieë teen Tukkies en klop die manne van Pretoria met ‘n bonuspunt om ‘n plek in die halfeindstryd te bevestig. Die probleem is dat teorie en praktyk baie keer van mekaar verskil en wat …

Prioriteit nommer een vir die Pukke se Varsitybekerkampioene hierdie komende Maandag op die Fanie du Toit Sportgronde is eenvoudig: Druk vier drieë teen Tukkies en klop die manne van Pretoria met ‘n bonuspunt om ‘n plek in die halfeindstryd te bevestig.

Lungelo Gosa van NWU Pukke.

Die probleem is dat teorie en praktyk baie keer van mekaar verskil en wat op papier eenvoudig lyk, is nie altyd so maklik op die veld in ‘n tydgleuf van 80 minute nie. Tog weet Jonathan Mokuena se verdedigende kampioene dat hulle nou alles moet insit. Maandag is hulle laaste kans om te bly of te gly. Vir al die Puk-ondersteuners op die Fanie du Toit Sportgronde sowel as die bestuur, is ‘n wen ononderhandelbaar. Pukke moet aanval, drieë druk en wen.

“Ek het baie onus op die spelers self geplaas hierdie week. Hulle moet verantwoordelikheid neem en elke groepie spelers moet weet wat hulle na die tafel moet bring om Tukkies te kan klop. Dit gaan ‘n spanpoging van beide afrigters en spelers vat,” vertel Puk breier, Jonathan Mokuena.

“Ek is ‘n proses-gedrewe afrigter en glo dat as die spelers weet wat hulle moet doen, dat alles in plek sal val. Dit klink dalk moeilik om vier drieë te druk, maar ek glo dit is haalbaar. Veral as jy na ons vertonings teen Wits kyk, waar ons baie geleenthede gehad het en net nie afgerond het nie. Ons het die geleenthede, ons moet dit net benut. Koelkop bly gaan belangrik wees, en om nie te oorgretig te wees nie.
Die ouens weet wat hulle moet doen.”

Sibahle Maxwane

Goeie nuus vir Pukke is dat losskakel, Schalk Hugo weer sal kan speel en volgens Mokuena is daar tans ‘n 80 persent kans dat Hugo op die veld sal draf. Tukkies se losskakel, Tinus de Beer gaan juis een van die Pretorianers se groot wapens wees en Mokuena weet dat Tuks ‘n gedugte span is wat niks vir Pukke op ‘n skinkbord sal gee nie.

Schalk Hugo

“Kyk, Tukkies het ‘n goeie pak voorspelers en baie vinnige en ratse agterspelers sowel as ‘n losskakel wat die spel goed beheer. Verder het ek respek vir hulle gesoute afrigter (Pote Human). Ons is die jongste afrigtingspan in die kompetisie maar ons groei heeltyd saam. Ons wil die bal lug gee.”

As daar ooit ‘n tyd was om die bal lug te gee is dit nou. Verwag dat drieë op die Fanie du Toit Sportgronde op Maandag 27 Maart gaan reën. Afskop is om 16:45.

Wat sê die geskiedenisboeke

In die Varsitybeker-kompetisie het Pukke net-net die oorhand met ses oorwinnings teenoor Tukkies se vyf.
Pukke het sedert 2013 nog nie een keer teen Tukkies verloor nie. Die laaste keer wat Pukke teen Tukkies in hierdie kompetisie verloor het was in die 2012 halfeindstryd.
2008 – UP-Tuks 25 – NWU Pukke 11
2009 – UP-Tuks 29 – NWU Pukke 27
2010 – NWU Pukke 35 – UP-Tuks 24
2011 – UP-Tuks 35 – NWU Pukke 10
2012 – UP-Tuks 40 – NWU Pukke 20
UP-Tuks 53 – NWU Pukke 24 (halfeindstryd) 2013 – NWU Pukke 26 – UP-Tuks 23 2014 – NWU Pukke 18 – UP-Tuks 0 2015 – NWU Pukke 42 – UP-Tuks 37 NWU Pukke 29 – UP-Tuks 28 (halfeindstryd)
2016 – NWU Pukke 38 – UP-Tuks 15

Interessante feite

•Tukkies het tot dusver in vanjaar se Varsitybeker 35 drieë teenoor Pukke se 20 drieë gedruk.
•Tukkies moet wen om ‘n tuis halfeindstryd te kry.
Hierdie wedstryd is Pukke se finale tuiswedstryd en indien hulle vir die uitspeelrondtes kwalifiseer, gaan hulle albei half- en eindstryde weg speel.
Spelers om dop te hou:
Jimmy Mpailane (NWU-Pukke)
NWU-Pukke se voorste driedrukker sal nou meer as ooit by sy vier drieë sover teen Tuks moet byvoeg. Mpailane het spoed en vaart en as hy genoeg spasie het sal hy Puk-ondersteuners Maandag laat jubel.
Wilmar Arnoldi (NWU-Pukke)
NWU-Pukke se ysterhaker het hierdie jaar reeds twee Speler van die Wedstryd-toekennings ontvang vir sy spel. Hy is altyd gevaarlik met die bal in die hand en sy stormlopies sal ‘n groot rol teen Tukkies speel.
Tinus de Beer (Tuks)
Die blondekop losskakel van Tukkies se goeie balverspreiding op die aanval mag probleme vir Pukke veroorsaak en hy sal fyn dopgehou moet word.
Sibahle Maxwane (Tuks)
Maxwane word as die nuwe Habana bestempel as gevolg van sy spoed en manier om met sy vinnige voete die gaping te slaan. Verwag groot dinge van hierdie regtervleuel.

Exit mobile version