SportSport

Noordwes se opkomende krieketspelers beleef wipwa Khaya Majola toernooi

Die jaarlikse o.19 Coca-Cola Khaya Majola krieketweek het die afgelope Desember weer die land se talentryke jong krieketspelers ten toon gestel met spanne soos Noordelikes, Gauteng, Vrystaat en die Westelike Provinsie wat vanaf 16 tot 20 Desember  oudergewoonte uitgeblink het. Noordwes se jong o.19 talent was ook nie skaam om hulle staal te wys nie. …

Die jaarlikse o.19 Coca-Cola Khaya Majola krieketweek het die afgelope Desember weer die land se talentryke jong krieketspelers ten toon gestel met spanne soos Noordelikes, Gauteng, Vrystaat en die Westelike Provinsie wat vanaf 16 tot 20 Desember  oudergewoonte uitgeblink het. Noordwes se jong o.19 talent was ook nie skaam om hulle staal te wys nie.

Hulle kan hulle pette met trots dra na ‘n goeie week waar hulle ‘n paar goeie oorwinnings en naelbyt nederlae beleef het wat enige kant toe kon geswaai het. Vir Noordwes was Hoër Volkskool Potchefstroom se veelsydige speler Louis van Schalkwyk en HTS Potchefstroom se eerstespan krieketkaptein, Reabetswe Mokgoro, die groot steunpilare gedurende die week.

Vir hulle goeie spelpeil is hulle met ‘n verkiesing tot die bizhub Lions Cubsspan vir die 2017 KSA Cubsweek in Stellenbosch vanaf 4 tot 8 Januarie ingesluit.

Opsommend het Noordwes twee 1-dag tydkrieketwedstryde, twee T20 wedstryde en twee 50 beurt wedstryde gespeel. In hierdie ses wedstryde het hulle altesaam een onbesliste uitslag teen Boland, oorwinnings teen Namibië en Kwa-Zulu Natal, en drie nederlae teen WP, SWD en KZN behaal.

Cobus Crowthre, wat hire kolf, was die Noordwes o.19 span se voorste paaltjievraat.
Cobus Crowthre, wat hire kolf, was die Noordwes o.19 span se voorste paaltjievraat.

Volkies se Cobus Crowther was die voorste paaltjievraat vir die Noordwesspan met 8 paaltjies in die toernooi. Crowther se boulgemiddeld was 27.75 en hy het slegs 4.06 lopies per boulbeurt afgestaan, wat heel skaflik vir ‘n draaier is.

Opsommende uitslae:

Noordwes teen Boland (onbeslis)

Boland: 221/6 verklaar

Noordwes: 135/4

In Noordwes se eerste wedstryd teen Boland draai albei spanne die lopiekrane behoorlik oop met Keagan Whitten wat ‘n skaflike 58 aanteken.

Crowther vat in hierdie wedstryd 2/63 en Van Schalkwyk se draaiballe werp ook vrugte af met 2/29.

Van Schalkwyk met ‘n onoorwonne 49 van 96 balle anker Noordwes se kolfbeurt en aan die einde van die  dag eindig NW op 135/4.

Noordwes teen Namibië (Noordwes wen op eerste beurt)

Namibië: 147 almal uit

Noordwes: 174/9 verklaar

Namibië: 9/0

In hierdie wedstryd waar die boulers aan albei kante die oorhand geneem het, was Noordwes se Mpho Seloalane (4/36) en Crowther met 3/31 die uitblinkers. Volkies se Ruan von Abo slaan ook ‘n goeie 45, terwyl Mokgoro 35 bydra.

Kwa-Zulu Natal teen Noordwes (Kwa-Zulu Natal wen met 30 lopies – T20)

KZN: 207/4

NW: 177/7

In hierdie eerste T20 wedstryd kom Noordwes net te kort nadat KZN ‘n baie mededingende 207/4 aanteken. Hier was Jordan Grobbelaar die ene David Miller met ‘n blitsige 61 (29) vir die KwaZulu-Natallers.

Noordwes het alles probeer om dié stuiwe teiken te haal maar hulle kon net nie die mas opkom nie. Von Abo was briljant met sy 78 (44) wat 5 viere en 7 sesse ingesluit het. Op die ou einde kon Noordwes net 177/7 in 20 boulbeurte aanteken.

Westelike Provinsie teen Noordwes (WP wen met 27 lopies – T20)

WP: 167/4

NW: 140/5

In Noordwes se vierde wedstryd van die toernooi was WP effens te sterk vir die groen pette, met Jesse Christensen se 75 wat die fondasie vir die Kapenaars lê. Mokgoro is Noordwes se beste bouler in die wedstryd, met 3/24.

Noordwes kom ook nie op dreef in hulle lopiejaagtog nie, met geen kolwer wat meer as 40 slaan nie, maar almal tog op die punt gekom het om ‘n goeie kolfbeurt te kon speel. Jan-Harm Moolman is hier die Noordwes se voorste lopiemaker met 33.

Noordwes teen SWD (SWD wen met 160 lopies – 50 beurte)

SWD: 278/9 (50 boulbeurte)

NW: 118 almal uit.

In die vyfde wedstryd van die toernooi kry Noordwes ‘n behoorlike pakslae nadat hulle kolwers vir ‘n skamele 118 lopies uitgeboender is.

Dit nadat SWD heel gemaklik in hulle kolfbeurt gelyk het in hulle groottotaal van 278/9.

Slegs Mohamed Suliman met 32 kon enige iets positief verrig. NW se angel was SWD se Richard Papenfus wat met 5/21 die kolwers vuisvoos gelos het.

Noordwes teen KwaZulu-Natal (NW wen met 13 lopies D/L – 50 beurte)

Noordwes: 230/9

KZN: 183 almal uit

Noordwes het hulle beste vertoning van die Khaya Majola Krieketweek vir laaste gehou toe hulle soete wraak teen KZN na hulle T20 nederlaag behaal het. Hierdie wedstryd is as gevolg van reën verkort en dit het Noordwes se taak vergemaklik met die lopiejaagtog wat met elke bal moeiliker vir KZN volgens die Duckworth/Lewis metode gemaak het.

Elke paaltjie het die wenteiken verder weg van KZN gestoot, met Ruan Minnaar wat met 3/24 seker van die oorwinning vir NW gemaak het. Vroeër het Oridile Modimokoane met 53 vir Noordwes na 230/9 gehelp met ‘n briljante kolfbeurt onder groot druk. Modimokoane het ook met boulsyfers van 2/26 gespog.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button