Photo GalleriesSportSportSports Galleries

Rudolph en Deysel kry dubbele Luiperds-vreugde

Die Luiperds Rugbyunie se Speler van die Jaar-toekenning het vanjaar aan niemand anders as hulle uitstekende agtsteman en kaptein, Jeandré Rudolph gegaan nie. Rudolph het die besondere eer gehad om die toekenning vanjaar tydens die 2016 Luiperds jaareindfunksie wat Donderdagaand, 1 Desember by die spoggerige Elgro Hotel gehou is, te ontvang. Sodoende het Rudolph nou …

Die Luiperds Rugbyunie se Speler van die Jaar-toekenning het vanjaar aan niemand anders as hulle uitstekende agtsteman en kaptein, Jeandré Rudolph gegaan nie.

Rudolph het die besondere eer gehad om die toekenning vanjaar tydens die 2016 Luiperds jaareindfunksie wat Donderdagaand, 1 Desember by die spoggerige Elgro Hotel gehou is, te ontvang.

Sodoende het Rudolph nou die Puk Speler en Luiperd Speler van die Jaar- trofeë in sy trofeekas, asook ‘n groot en gesogte Varsitybeker wat hy vanjaar as kaptein gewen het.

Dié ysterspeler is ‘n waardige wenner met slegs sy Namibiese spanmaat, Johan Deysel, wat moontlik kompetisie vir vanjaar se NWU Puk Rugbyinstituut se Speler van die Jaar kon wees.

Deysel het juis die Spelers se Speler van die Jaar-toekenning en die Agterspeler van die Jaar-toekenning gevat en kan tevrede wees met sy laaste seisoen in die Luiperds trui.

Deysel is tans by die Haaie gekontrakteer en vorm deel van die lang lys van spelers wat vanjaar na Durban, nes staatmakers, Rhyno Smith en Benhard Janse van Rensburg, verhuis het.

Tog sal die Luiperds steeds hulle fokus op die jong spelers plaas waar hulle die afgelope tyd ‘n paar diamante ontdek het, soos Walt Steenkamp wat as Voorspeler van die Jaar aangewys is. Steenkamp het ‘n besondere jaar in die nommer 5 trui gehad en hierdie lank en lenige slot het ‘n blink toekoms wat vir hom voorlê.

Chriswill September was ook woelwater in die nommer 9 trui en het met reg die toekenning as die Beste Opkomende Speler van die Jaar ontvang. Die jaareindfunksie was ‘n gulde geleentheid vir spelers, voormalige spelers, bestuur, personeel en uitgesoekte gaste om terug te kyk na ‘n suksesvolle jaar waar die Luiperds van krag tot krag gegaan het. Pieter Möller het as gasspreker opgetree en was oudergewoonte skreeusnaaks met pittige staaltjies en raakvat opmerkings. Al wat gekort het was die Curriebeker Eerste Divisie-trofee.

“Ons wil vir Jonathan Mokuena (Luiperdsafrigter) en sy span vir ‘n wonderlike seisoen dankie sê. Ons het puik rugby gespeel en net met die laaste hekkie teen die Purple People Eaters, die Griffons, gestruikel. Die prioriteit volgende jaar is om die trofee te wen,” het Luiperdspresident, adv. André May gesê.

Lys van wenners:

Speler van die Jaar: Jeandré Rudolph

Agterspeler van die Jaar: Johan Deysel

Voorspeler van die Jaar: Walt Steenkamp

Spelers se Speler van die Jaar: Johan Deysel

Opkomende Speler van die Jaar: Chriswill September

Onder 21 Speler van die Jaar: Tiaan Bezuidenhout

Onder 19 Speler van die Jaar: Edmund Rheeder

Vrouespeler van die Jaar: Nokubonga Siko

Vroue 7’s Speler van die Jaar: Megan MacKenzie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button