Potch Dorp se ‘broers’ lewer ‘n interessante stryd

Potch Dorp se eerste en tweede spanne het Saterdag 26 November teen mekaar te staan gekom in ‘n interessante stryd waar spelers wat mekaar relatief goed ken en saam oefen, gekyk het wie die beste op die krieketveld was. Amper soos ‘n ouer en jonger broer het hierdie twee spanne mekaar aangevat met net een …

Potch Dorp se eerste en tweede spanne het Saterdag 26 November teen mekaar te staan gekom in ‘n interessante stryd waar spelers wat mekaar relatief goed ken en saam oefen, gekyk het wie die beste op die krieketveld was.
Amper soos ‘n ouer en jonger broer het hierdie twee spanne mekaar aangevat met net een wat op die ou einde hul stem kon dik maak – Dorp 1 wat ‘n 185 lopie oorwinning behaal het.
Die ouer broer in hierdie wedstryd was natuurlik die eerste span met ‘n paar ervare manne en die jonger broer die tweede span met ‘n paar opkomende jong spelers (wat nog skolekrieket speel) in hulle span.
Potch Dorp se eerstes het wel vroeg gewys dat hulle nie hul opposisie onderskat nie.

Lourén Steenkamp vier sy honderdtal vir Potch Dorp 1 teen Potch Dorp 2 verlede Saterdag in die Senwes Premierliga. Sy onoorwonne 113 en sy spanmaat, Marcus Fourie (192) het ‘n gemaklike oorwinning verseker. Foto: Hennie Steenkamp

Marcus Fourie met 192 en Lourén Steenkamp met 113* het met voortreflike kolfvertonings hulle klas bewys en die wedstryd buite die bereik van hulle teenstanders geplaas.
Fourie se hotklou het talle balle grens toe gestuur en sy opgewondenheid toe hy sy honderdtal behaal, was beslis iets om te beleef.
Steenkamp het die afgelope tyd gesukkel om lopies te kry en kon uiteindelik breed glimlag met dié onoorwonne beurt. Potch Dorp se eerstes eindig op 385/4 in hulle 46 boulbeurte.
Die tweedes se beste boulers was Wouter Ras wat 1/44 geneem het en Jaco Grobbelaar met 2/58 in sy 10 boulbeurte.
Potch Dorp se tweedes moes van die begin af die balle grens toe stuur om enige kans te hê.
Die eerstes was egter net te goed met hulle akkurate boulwerk en Dorp 2 kon toe nie enige momentum bou nie.
‘n Goeie ligpunt vir Dorp 2 was die gedissiplineerde kolfwerk van Herman Prinsloo van Volkies wat ‘n 54 teen die ervare manne aangeteken het.
Stean Naudé het ook van begin tot einde vir ‘n geduldige 67 gekolf. Hussein Alli was Dorp 1 se giftigste boulers met 2 paaltjies.

Exit mobile version