SportSport

Mokuena steeds by Luiperds te midde van Junior Bokke gerugte

Die kanse is goed dat die Luiperds en NWU-Pukke afrigter Jonathan Mokuena, volgende jaar steeds aan die stuur van sake gaan wees. Dit nadat daar die afgelope week weer in die nasionale media berig is dat Mokuena heel moontlik die top kandidaat is om die Junior Bokke (o.20) pos te vul. Dit behoort ‘n groot …

Die kanse is goed dat die Luiperds en NWU-Pukke afrigter Jonathan Mokuena, volgende jaar steeds aan die stuur van sake gaan wees. Dit nadat daar die afgelope week weer in die nasionale media berig is dat Mokuena heel moontlik die top kandidaat is om die Junior Bokke (o.20) pos te vul.

Dit behoort ‘n groot wortel voor Mokuena se neus te wees, maar in dié stadium is dit nog net bespiegelinge. Daar word genoem dat Mokuena juis ‘n goeie kandidaat kan wees, aangesien hy die strukture in die nasionale sisteme ken en as speler wat Suid-Afrika ook op Springbok Sewes-vlak verteenwoordig het .

Mokuena het ‘n slag met ‘n jong groep spelers, soos hy by Pukke gewys het vanjaar en dit is miskien een van die redes waarom sy naam in die gesprek opgekom het om Dawie Theron se skoene te vul.

Die realiteit is wel dat Mokuena self nog nie enige aanbod van SARU gekry het nie, en dat hy tans al sy energie in die opkomende Varsitybeker-seisoen insit. Hy moet juis nou die gesogte titel van Varsitybekerkampioen verdedig en dit self is ‘n lekker uitdaging vir dié suksesvolle afrigter.

“Niemand self by SARU het al met my oor die Junior Bokke pos gepraat nie. My kontrak by die Luiperds en Puk is drie jaar en tans is ek besig met Varsitybekervoorbereiding,” het Mokuena prontuit genoem.

Volgens die Luiperds Rugbyunie se president, adv. André May, is daar baie bespiegelinge oor Mokuena se moontlike betrokkenheid as afrigter vir die Junior Bokke, maar dat daar nog geen amptelike besprekings rondom die saak is nie.

“Ons weet nie van iets nie. Daar is nie sprake van ‘n moontlike pos nie en SARU het dit vir ons by die Luiperds bevestig,” het May genoem.

SARU gaan op 9 Desember by hulle raadsvergadering ‘n besluit oor die nuwe afrigter by die Junior Bokke maak. Die nuwe breier se eerste taak sal dan wees om ‘n span bymekaar te kry vir die opkomende o.20 Wêreldbeker wat op 31 Mei volgende jaar gaan begin.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button