SportSport

Luiperds jag verskeie verskeie teikens in nuwe rugbyjaar na

Die Luiperds Rugbyunie (LRU) is tans in ‘n oorgangsfase nadat hulle  die afgelope paar jare deur ‘n finansiële stormwater is, maar danksy goeie beplanning en administratiewe struktuur kan die unie weer kop bo water hou met ‘n opwindende toekoms wat voorlê. Adv. André May, president van die Luiperds Rugbyunie, glo dat 2016 meer hoogtepunte as …

Die Luiperds Rugbyunie (LRU) is tans in ‘n oorgangsfase nadat hulle  die afgelope paar jare deur ‘n finansiële stormwater is, maar danksy goeie beplanning en administratiewe struktuur kan die unie weer kop bo water hou met ‘n opwindende toekoms wat voorlê.

Adv. André May, president van die Luiperds Rugbyunie, glo dat 2016 meer hoogtepunte as laagtepunte ingehou het en dat daar ’n  klomp positiewe aspekte is om die toekoms op te bou.

“Elke jaar bring ons jong spelers deur en identifiseer ons talent. Die uitdaging gaan bly om baie van die jong Puk spelers te identifiseer en deur die sisteem te bring, eerder as om spelers oor die res van die land te kontrakteer. Volgende jaar wil ons ook die klubs meer betrek en wedstryde by verskillende plekke soos Rustenburg of Lichtenburg speel. Dit sal ‘n gemeenskapsbetrokkenheid skep.

“Ons sukses kan nie net gemeet word aan ons professionele span nie. Ons moet volgende jaar meer aandag aan ons klubs gee en juis rugby na hulle toe kan vat.”

Tog het die jaar ook ‘n klomp hoogtepunte en laagtepunte gehad.

“Dit was ‘n baie groot teleurstelling toe ons nie vir die Premier divisie kon kwalifiseer nie. Die hoogtepunte was die Puk wat die Varsitybeker en Impala Rugbyklub wat die Gold Cup gewen het. Dit sit ons in ‘n bevoorregte posisie om twee van die grootste titels onder die Luiperds te hê.

“Die Luiperds het skitterende rugby gespeel, maar kon toe net nie die finaal wen nie. Die jonger spelers het ook goed deurgekom,” noem May.

Die (semi) professionele era?

Volgens May is een van die kwelpunte dat baie van die Pukke se spelers te veel wedstryde gedurende die jaar speel, aangesien meestal van hulle vir die Luiperds ook uitdraf, dus speel hulle dubbel die normale aantal wedstryde.

“Dit gaan ‘n inkoop vat om die Impala spelers deel van die Luiperds opset te maak. Die ideaal sal wees om ‘n kombinasie van Puk en Impala-spelers te hê.

Volgens May sal dit ‘n onding wees as Impala Rugbyklub teen die Luiperds sou speel, aangesien die Luiperds nie meer soos voorheen net uit Noordwesspelers bestaan nie.

“Die Luiperds is nou ‘n gekontrakteerde span. Die belangrikste is dat Impala deel word van die Luiperds. Die vraag is of daar nie weg van die professionele era beweeg moet word, sodat ons op ‘n semi-professionele basis meer klubspelers kan betrek nie. Impala het meer as twintig voormalige provinsiale spelers en dit sal juis goed wees om daardie ervaring te kan betrek saam met die jonger Puk-spelers.”

Volgens May is ‘n groot probleem dat baie gekontrakteerde spelers in die professionele era te oud is en dan steeds net geld uit rugby wil maak.

“As jy dit op 25 nie maak nie, moet jy eerder Frankryk toe gaan en oorsee gaan speel, of  ‘n werk kry. Daar is te veel professionele spelers in SA rugby se sisteem.”

Dit is baie duidelik dat die golwe van SARU ook die kleiner unies sal tref, juis nou nadat SARU bekend gemaak het dat hulle aan die begroting sal sny.

“Die uitdaging is dat professionele rugbyspelers duur is om te kontrakteer. Persoonlik dink ek die regte antwoord is om ‘n ouderdomsbeperking van omtrent 25 by die eerste divisie spanne te hê. Dit pas ons, en sodoende kan daar meer jong talent deur die sisteem kom.”

May glo ook dat al die unies gedwing gaan word om kleiner gekontrakteerde groepe te hê. “Dit gaan net finansieel sin maak, veral met begrotings wat gesny word.

Die prioriteit is om Curriebeker Eersteliga te wen.

“Dit is ononderhandelbaar dat ons die eerste divisie volgende jaar wen. Die doelwit sal ook wees om die beste groep spelers vir die Luiperds beskikbaar te hê.”

Met vanjaar se nuwe Curriebeker-formaat wat nege spanne in die Premier divisie en 5 spanne in die Eerste divisie gehad het, was daar soms ‘n gevoel van verwarring by rugbyliefhebbers. Al lyk ‘n promosie/relegasie model aantreklik omdat dit die kleiner unies moontlik die kans gee om Premier divisie te speel, is daar ook verskeie finansiële faktore wat in ag geneem moet word.

“Dit is net so moeilik omdat jy op ‘n laat stadium vir borge moet laat weet in watter divisie jy sal speel. Sodoendeis dit moeilik om spelers te kontrakteer omdat hulle self onseker is oor in watter divisie hulle sal speel,” sê May.

Ondersteuning in Potchefstroom

“Die krisis is dat Potchefstromers nie Luiperdsrugby kom kyk nie. Dit kan beteken dat ons meer wedstryde buite Potch kan speel. Sodoende wil ons meer by ons plaaslike klubs wedstryde speel, soos by Leeudoringstad, aangesien dit ‘n groot inspuiting vir hulle dorp is,” noem hy.

Al die unies sukkel om rugbyondersteuners na die stadions te lok en May glo dat ‘n ander moontlike oplossing daarin lê om wedstryde op Maandagaande te hou, aangesien daar so baie verskillende sport gelyk oor naweke gebeur wat ondersteuners na hulle TV-skerms lok.

“Provinsiale rugby kan na Maandagaand geskuif word. Dié kultuur is reeds met die Varsitybeker geskep. Op ‘n Maandagaand kan al die eerste divisie spanne op een dag gelyk speel by Olënpark van 16:00 tot 20:00 byvoorbeeld. Almal sal moet inkoop aangesien daar dan minder tuiswedstryde sal wees. Dit is een opsie.”

May reken ook dat daar bemarkingsgeleenthede is, al is blootstelling op die huidige stadium ‘n probleem.

“Elke unie is onder druk om borge te kry. Al het ons nie ‘n hoofborg nie, het ons baie ondersteuning van plaaslike besighede in Potchefstroom en die groter Noordwes area. Gemeenskapsbetrokkenheid is belangrik.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button