SportSport

Jong Luiperd is in die kol met sy drieë

Op Nuweland vanjaar het ‘n jong Luiperd teen die kragtige WP, wat hy sy hele lewe lank ondersteun, kliphard met sy rugbytalente gebrul. Met twee puik drieë vir die Luiperds o.21 span teen WP se o.21’s op Nuweland se geskiedkundige gronde het Elden Schoeman bewys dat sy rugbyloopbaan vir groot dinge bestem is. Die voormalige …

Op Nuweland vanjaar het ‘n jong Luiperd teen die kragtige WP, wat hy sy hele lewe lank ondersteun, kliphard met sy rugbytalente gebrul.

Met twee puik drieë vir die Luiperds o.21 span teen WP se o.21’s op Nuweland se geskiedkundige gronde het Elden Schoeman bewys dat sy rugbyloopbaan vir groot dinge bestem is.

Die voormalige Vereeniging Gimnasium matrikulant is een van die voorste driedrukkers in die o.21 Curriebekerkompetisie met ses drieë vanjaar. Onder die mentorskap van voormalige Springbok losskakel André Pretorius, het hierdie jong speler sy kanse in die agterlyn aangegryp en met sy vaart en skerp sin vir ‘n gaping begin beïndruk.

“Hy (André Pretorius) is die beste afrigter waaronder ek al gespeel het. ‘n Mens weet altyd waar jy met hom staan en hy het ‘n goeie verhouding met sy spelers,” besing Schoeman sy afrigter se lof.

“Ek was in die begin nie betrokke by die NWU Puk Rugbyinstituut nie en het in my eerste jaar koshuisliga vir Veritas gespeel. In my eerste wedstryd het ek ‘n driekuns behaal en Melusi Mthethwa (voormalige Luiperds o.19 afrigter) het my na die wedstryd kom sien en so het ek op beweeg tot waar ek nou is,” vertel Schoeman.

Al kan Schoeman beide senter en vleuel speel, verkies hy die buitesenter posisie aangesien hy meer spasie het om te hardloop en meer gereeld in die kontaksituasie as ‘n vleuel kom.

“Primêr moet jou verdediging goed wees en jy moet die aanvalspatroon van jou teenstander kan lees.

“Op aanval moet jy spasie vir jou, die heelagter en die vleuel maak,” verduidelik hy.

Schoeman was ook deel van vanjaar se NWU-Pukke span wat die Varsitybeker vir die eerste keer in die universiteit se geskiedenis verower het met daardie naelbyt 7-6 oorwinning teen Maties.

“Dit was ongelooflik om deel daarvan ook te wees. Die lekker ding van die Varsitybeker is die blootstelling wat jy as rugbyspeler kry. Dit berei jou voor vir rugby op ‘n professionele vlak,’ sê hy.

In die toekoms sal Schoeman graag Superrugby wil speel met die hoop dat hy later sy grootste droom kan bewaarheid om die groen en goud oor sy kop te trek.

Vinnige feite:

Skool: Vereeniging Gimnasium (voorheen HTS Vereeniging)

Studies: B.Com. Bemarking

Koshuis: Veritas

Beste rugbyoomblik: 2016 Varsitybeker oorwinning met Pukke.

Springbokheld: Jean de Villiers

Gunsteling senters tans: Malakai Fekitoa, Israel Folau en Tevita Kuridrani.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button