Photo GalleriesSportSportSports Galleries

Griffons stuit Luiperds en buit Eersteligatrofee met geharde vertoning

Welkom se Perstruie het vandag (Vrydag 7 Oktober) op Olënpark in die Curriebeker Eersteliga eindstryd die Luiperds se bekerdrome met ‘n 44-25 oorwinning verpletter. Al was baie faktore teen die Griffons het hulle besluit om die bordjies te verhang en hulle eie geskiedenis met pragspel te skryf. Die Luiperds het ook hulself telkemaal in die …

Welkom se Perstruie het vandag (Vrydag 7 Oktober) op Olënpark in die Curriebeker Eersteliga eindstryd die Luiperds se bekerdrome met ‘n 44-25 oorwinning verpletter.

Al was baie faktore teen die Griffons het hulle besluit om die bordjies te verhang en hulle eie geskiedenis met pragspel te skryf.

Die Luiperds het ook hulself telkemaal in die voet gekwes en kan terugskouend na baie hanteringsfoute onder andere kyk wat hulle in die steek gelaat het. Die Luiperds het juis teen die fisieke Griffons gesukkel wat met harde verdediging baas was.

Kyk die foto’s hier: (Wouter Pienaar)

Whitehead was met reg as die speler van die wedstryd bekroon. Sy skakelmaat, Boela Abrahams, was net so gevaarlik en het met sy ratsheid baie probleme vir die tuisspan veroorsaak.
Die Luiperds het wel die eerste punte aangeteken toe Johan Deysel suksesvol met ‘n strafskop was.

Die Griffons het wel vinnig teruggeveg en kort voor lank is Whitehead oor om sy span met 7-3 voor te laat loop. Nog ‘n Whitehead strafskop volg om die voorsprong na 7 punte te trek.
Adrian Vermeulen bring die Luiperds weer twee minute later terug in die prentjie met ‘n uitstekende drie, maar verlaat die veld kort daarna met ‘n ernstige besering.

Net toe die Luiperds blyk of hulle weer ‘n sê gaan hê, breek Whitehead se spoed en sin vir ‘n gaping die Luiperds verdediging in twee. Selvyn Davids is die gelukkige wenner van Whitehead se aangee en hy klop nog ‘n verdediger om onder die pale te gaan kuier. 22-10 met halftyd en skielik was die Griffons die oorweldige gunsteling.

Tog het die Luiperds weer hulle byt gewys toe Jaco Hayward net na helftyd in die hoekie gaan druk. Die Griffons het aanhou druk toepas wat daartoe gelei het dat Luiperds kaptein, Jeandré Rudolph met ‘n geelkaart afgestuur is toe hy een te veel strafskoppe afgestaan het.

Die Griffons het Luiperdsbloed geruik en vir die finale doodskoot gegaan. In die Griffons se geval was Tertius Kruger se drie die koeël wat die Luiperds geknak het. Dié buitesenter het ook met een minuut speeltyd oor nog ‘n drie gaan druk na nog ‘n Luiperds fout onder die hoë bal.

Met die blaas van die eindfluitjie was die Griffons die nuwe konings van die Curriebeker Eersteliga in hulle pers mantels. Die Luiperds se onoorwonne rit is nou ontspoor en hulle sal maar op die toekoms moet fokus vir nog ‘n sege.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button