Lees tussen die lyne: Kan die Bokke die wêreld skok?

Kan die Bokke die wêreld skok om die All Blacks in Christchurch te klop?

Kan die Bokke die wêreld skok om die All Blacks in Christchurch te klop?
Die meeste mense se antwoord op hierdie vraag is ’n dawerende nee. Sonder om soos die ewige optimis te klink, wat ek verseker nie is nie, dink ek dit is moontlik vir die Bokke om die All Blacks te klop.
Die feit is dat ons nie swak spelers in die span het nie. Die meeste is dalk bietjie onervare, maar aan pure talent is daar nie ’n tekort nie. Allister Coetzee moet net die talent reg gebruik. Hy moet ook ’n manier kry om die manne in toom te hou sodat daar nie so baie strafskoppe afgestaan word nie. Eben Etzebeth is ’n baie goeie voorbeeld van wat gebeur as rugbyspelers kop verloor. Hoewel hy nie ’n slegte wedstryd gehad het nie en hy dalk bietjie ongelukkig was om ’n geel kaart te kry, moet hy leer om sy emosies in toom te hou. Dit is eintlik Adriaan Strauss se werk. As kaptein moet hy die manne motiveer en rustig maak wanneer die druk te groot begin raak. Strauss speel altyd teen 110% en hy gee sy beste. Ek dink dat hy glo as hy elke wedstryd sy beste gee, dat hy die ander spelers sal inspireer om ook meer as hulle beste te gee. Ongelukkig werk dit nie so nie. John Smit was in 2007 lankal nie meer die beste haker wat die Springbokke gehad het nie, maar hy was die beste kaptein. Saam met ander senior spelers het hulle die spelers gemotiveer om beter te doen. Nie net met sy eie spel nie, maar goeie bestuur van die spelers. Hy het geweet wat om vir Bakkies Botha te sê wanneer sy aggressie buite beheer geraak het. Om aggressief te wees op ’n rugbyveld is beslis iets wat moet gebeur, maar enige tweejarige kind kan ’n tantrum gooi en almal en alles uit die pad wil hardloop en stamp. ’n Professionele rugbyspeler moet daardie aggressie beheer en reg gebruik. Veral teen die All Blacks wat aspris die manne se bloeddruk opjaag sodat hulle foute maak.
Daar moet ’n totale mindshift gedoen word deur die Bokke, dan moet van die spelers kans gegun word om die wedstryd te begin. As Coetzee die dissipline kan uitsorteer, sal my vyftiental vir die All Blacks wedstryd so lyk:
15. Jesse Kriel
14. Bryan Habana (kaptein)
13. Juan de Jongh
12. Damian de Allende
11. Lwazi Mvovo
10. Elton Jantjies/Johan Goosen
9. Faf de Klerk/Francois Hougaard
8. Warren Whiteley
7. Teboho Mohoje
6. Jaco Kriel
5. Pieter-Steph du Toit
4. Eben Etzebeth
3. Vincent Koch
2. Malcolm Marx/ Bongi Mbonambi
1. Steven Kitshoff
Persoonlik sou ek baie ander veranderinge wou aanbring, maar ek werk net op die spelers wat nie beseer is nie en in Coetzee se 30-man span vir die rugbykampioenskap aangekondig was.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version