SportSport

Gimmies se hokkieseuns lig gesogte Noordvaalbeker

Toe Potchefstroom Gimnasium se eerstespan hokkieseuns die eerste wedstryd van die gesogte Noordvaal toernooi verlede week in Garsfontein teen Menlopark met 4-2 verloor het, was die gemoedere laag. ‘n Paar dae later is die bordjies verhang en Gimmies se hokkieseuns glimlag van oor tot oor met die trofee in hulle hande na ‘n uitmuntende vertoning …

Toe Potchefstroom Gimnasium se eerstespan hokkieseuns die eerste wedstryd van die gesogte Noordvaal toernooi verlede week in Garsfontein teen Menlopark met 4-2 verloor het, was die gemoedere laag.

‘n Paar dae later is die bordjies verhang en Gimmies se hokkieseuns glimlag van oor tot oor met die trofee in hulle hande na ‘n uitmuntende vertoning teen dieselfde skool met ‘n 2-0 oorwinning in die eindstryd. Dit is die tweede keer sedert die ontstaan van die Noordvaal toernooi in 2011 dat Gimmies die trofee verower. Eerstespan afrigter, Stefan Coertzen het in albei oorwinnings ‘n aandeel, nadat hy as speler in 2012 ook die trofee ingepalm het en hy nou kan spog dat hy aan albei kante van die veld sy merk gemaak het.

Gimmies se kaptein, Pierre Botma, was sekerlik die speler van die toernooi vir sy span, wat met woord en daad gelei het. Sy 11 doele in vyf wedstryde was noodsaaklik om momentum vir die eindstryd te bou. Sy vyf doele in een wedstryd teen Sasolburg was veral iets besonders.

“Ons het nie gaan lê nie. Na daardie eerste nederlaag teen Menlopark, het ons besluit om positief te bly. Ons moes teen Sasolburg Hoërskool met drie doele wen om in die kwartfinaal te kan speel, en toe 5-1 gewen. Ons het van ons beste hokkie gespeel teen Pietersburg in die kwarteindstryd met ‘n  4-1 oorwinning,” vertel Botma.

Volgens Botma was die halfeindstryd teen Potchefstroom Boys High die moeilikste wedstryd van die toernooi, wat hulle aan die einde met 2-1 gewen het. In hierdie wedstryd het Botma en Landré Halgryn die doele aangeteken. In die eindstryd het Divan Minnie en Botma weer die doelhok gevind. “Dit was die lekkerste gevoel om die beker na die wen op te lig, veral in my laaste wedstryd vir die skool. Die spangees was ongelooflik en ons het mekaar gedurig gemotiveer. Dit is een van my hoogtepunte. Alle eer aan God,” het Botma uitgebrei.

Vermelding moet aan die bestuurspan gegee word wat uit Soekie Coertzen (organiseerder), Stephan Spamer (hulpafrigter), Kobus du Plooy (prestasie afrigter) en hoofafrigter, Stefan Coertzen bestaan het. Hulle het die hele toernooi koppe bymekaar gesit vir dié oorwinning.

“Gimmies het ‘n uitstekende taktiese wedstryd teen Menlopark in die eindstryd gespeel om dié briljante span uit te oorlê,” noem Soekie Coertzen.

Gimmies as skool eindig 3de uit 12 deelnemende skole. Menlopark eindig algeheel eerste en Garsfontein tweede. In vanjaar se hokkieseisoen teken Gimmies se eerstespan ‘n totaal van 137 doele aan met slegs 25 doele teen hulle in 26 wedstryde.

Die o.16 span van Gimmies het ‘n verdienstelike 6de plek behaal en die o.14 span eindig vyfde. “Gimmies gee vir elke speler ‘n geleentheid om te ontwikkel en alle eer word aan ons Hemelse Vader gegee,” noem sy.

13876447_1785065021772300_8503131869875399312_n 13879460_1785065215105614_136758227813185951_n 13906948_1785064638439005_3860045831111010654_n

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button