Potch tennisster vervul Olimpiese droom

Vier jaar se opoffering, harde oefening, doelgerigtheid en kanniedood houding is alles die moeite werd vir SA en Potch se rolstoeltennis sensasie, Leon Els, wat sy Olimpiese droom vanjaar in Rio by die Paralimpiese Spele gaan bewaarheid. Els, wie voor sy ongeluk ‘n kranige sportman en rugbyspeler met Springbokdrome was, gaan nou die groen en …

Vier jaar se opoffering, harde oefening, doelgerigtheid en kanniedood houding is alles die moeite werd vir SA en Potch se rolstoeltennis sensasie, Leon Els, wat sy Olimpiese droom vanjaar in Rio by die Paralimpiese Spele gaan bewaarheid.

Els, wie voor sy ongeluk ‘n kranige sportman en rugbyspeler met Springbokdrome was, gaan nou die groen en goud van sy land oor sy kop trek en op die grootste sportverhoog vanaf 8-19 September sy talente uitleef.

“Ek moes kliphard werk omdat Saskok se standaarde so hoog was. Om te kwalifiseer moes ek deel van die top 34 in die wêreld teen 23 Mei vanjaar wees. Ek was net so verlig en opgewonde om te kwalifiseer.

Dit is ‘n massiewe geleentheid wat ek gaan aangryp,” noem Els.

Els is tans in top vorm nadat hy beide die Polokwane en Soweto Ope’s gewen het en sien uit om as ‘n relatiewe buitestaander ‘n paar groter name te gaan verras.

“Ek is ‘n buiteperd vir die titel en dit pas my perfek. Daar is min druk en ek kan met vryheid speel. Ek gaan in om te wen en ek gaan my alles gee op die baan,” vertel Els met doelgerigtheid in sy oë. Els speel sy tennis onder die afrigting van Louis Bartlett by die Riaan Venter Tennisakademie op die Fanie du Toit Sportgronde en het jare se harde voorbereiding op hierdie bane in sy sak.

“Ek is tevrede met hoe Leon op die oomblik speel. Ons gaan nie veel voor die Paralimpiese Spele verander nie. Net hier en daar ‘n paar goed opskerp om hom 100% gereed te maak. Voor die Spele gaan ons nog ‘n toernooi in Kanada in Augustus speel en dan na Rio vandaar af vertrek,” vertel Bartlett.

Leon Els.

Sy afrigter glo ook dat Els se sterkste aspek van sy spel nie noodwendig ‘n spesifieke hou is nie, maar dat sy kanniedood houding hom daardie ekstra wil gee om ‘n wen in uitdagende omstandighede deur te trek.

“Ek dink ook, dit het baie te doen dat ek nog altyd baie sportief en kompeterend was. ‘n Mens gee nooit tou op nie. Dit is net hoe ek is,” stem Els met Bartlett saam.

Daar is geen twyfel dat Els sy land met eer gaan verteenwoordig nie. Op die tennisbane van Rio gaan hy sy merk maak en tot die bittereinde vir daardie medalje om sy nek veg.

So seker as wat die lug blou is.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version