SportSport

Geharde Springbok, Lofty Nel, blaas sy eindfluitjie

‘n Groot gees in die voormalige Wes-Transvaal en Springbokrugbykringe, Lofty Nel, is Dinsdag op 80-jarige ouderdom oorlede. Nel het 11 toetse vir die Springbokke op agtsteman en flank vanaf 1960-1970 gespeel, waarvan agt teen die All-Blacks en drie teen die Wallabies was. Hy het van 1957 tot 1971 vir Transvaal (Leeus), Wes-Transvaal (Luiperds) en die …

‘n Groot gees in die voormalige Wes-Transvaal en Springbokrugbykringe, Lofty Nel, is Dinsdag op 80-jarige ouderdom oorlede.

Nel het 11 toetse vir die Springbokke op agtsteman en flank vanaf 1960-1970 gespeel, waarvan agt teen die All-Blacks en drie teen die Wallabies was.

Hy het van 1957 tot 1971 vir Transvaal (Leeus), Wes-Transvaal (Luiperds) en die ou Suidoos-Transvaal (Pumas) uitgedraf. Hy het 76 keer vir die Mielieboere uitgedraf.

Nel het sy toetsbuiging op Ellis Park teen die All Blacks in 1960 gemaak en sy laaste Springbokwedstryd op die rype ouderdom van 35 teen dieselfde span ook op Ellis Park gespeel.

Lofty Nel in sy speeldae. Foto: SupaRugby.
Lofty Nel in sy speeldae. Foto: SupaRugby.

Daar was groot omstredenheid oor sy keuse in daardie 1970 Springbokspan nadat hy reeds vyf jaar in die internasionale wildernis was.

Een persoon wat hom goed geken het is voormalige Springbok en Wes-Transvaal legende, prof. Johan Claassen. Hy was juis ‘n Springbokkeurder vir daardie 1970-toets.

“Ek onthou dat Lofty perfek vir ons wedstrydplan teen daardie All-Blackspan gewerk het. Hy het aan al ons eise voldoen. Hy was ‘n harde speler, ‘n regte staatmaker en groot op fiksheid,” onthou Claassen.

As mens was Nel baie besadig, kalm en bedaard en het nooit vuil gespeel nie.

“In die paar kere wat ek en Lofty saam vir Wes-Transvaal en ook teen mekaar op klubvlak meegeding het, was dit altyd ‘n skoon stryd gewees,” sê Claassen.

Luiperds ere-president, Jan Fourie, onthou Nel as ‘n gedugte, klipharde teenstander toe Fourie vir Noord-Vrystaat gespeel het. Nel was ook in 1964, 1965 en 1970 die Wes-Transvaal Speler van die Jaar. As kaptein van die Strathvaalklub was Nel een van die legendariese klubspelers in die kontrei en sal sy impak op en van die rugbyveld nog lank onthou word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button