Luiperds byt vas in eerste Cravenweekstryd

In vanjaar se 53ste o.18 Coca-Cola Cravenweek gaan die beste van die bestes teen mekaar kragte meet. Hierdie prestige-toernooi vind vanjaar vanaf 11 tot 16 Julie by Kearsney College in Durban plaas. Talle Springbokke het in die Cravenweek al uitgeblink vir hulle provinsie en is hier die geleentheid gegun om hulle naam in ligte te …

In vanjaar se 53ste o.18 Coca-Cola Cravenweek gaan die beste van die bestes teen mekaar kragte meet.

Hierdie prestige-toernooi vind vanjaar vanaf 11 tot 16 Julie by Kearsney College in Durban plaas. Talle Springbokke het in die Cravenweek al uitgeblink vir hulle provinsie en is hier die geleentheid gegun om hulle naam in ligte te sien. Die mediadekking is groot, met wedstryde wat op TV uitgesaai word, onderhoude wat gevoer word en wedstrydberigte wat die nasionale media haal.

Wat ‘n beter kans dan vir die Noordwes se Luiperds-span om te wys dat die kleiner unies ook van die land se beste rugbytalent kan oplewer.

Die Luiperds o.18 Cravenweekspan het slegs twee Potchefstromers in hulle span, die kranige kaptein van Potchefstroom Boys High, Joaquim de Jenga en Gimnasium se senter, GJ Jansen van Rensburg. Hierdie Gimmie het sy plek met ‘n paar kragtige vertonings oopgespeel.

Die vraag bestaan wel waar die ander Potchefstroomse spelers is, veral met die dat Volkskool en Gimmies beide klomp talentvolle spelers het. Nietemin het die Luiperds, wat ‘n sterk Hoërskool Rustenburg, Vryburg en Vaal Reefs dinamika het, het kragte teen OP Platteland in hulle eerste wedstryd op Dinsdag 12 Julie gemeet. Die Luiperds het hierdie naelbytwedstryd met 26-24 gewen.

Die heelagter, Gerhard Fourie, het ‘n drie, drie doelskoppe en een strafskop aangeteken om sy span se wen te verseker.

OP Platteland het wel vier drieë gedruk, een meer as die Luiperds, maar het meer strafskoppe afgestaan en dit het hulle gekelder. OP Platteland kon die wedstryd in die laaste minuut gewen het toe Athenkosi Halom oor die doellyn gaan. Tragies was die laaste aangee na Halom vorentoe gewees.

Die o.18 Luiperds Akademiespan het ook goed begin toe hulle die Limpopo Blou Bulle met 53-31 verslaan het. Hier het Gimmies se Bradley Wood, Boys High se Kabelo Phalatse en HTS Potchefstroom se Pitso Mosia goed vertoon. Die ster was Lichtenburg se Evardi Boshoff wat 20 punte vir die Luiperds besorg het.

Exit mobile version