SportSport

Potchefstroom wys sy staal by Ysterman in Durban

Potchefstromers het weer eens gewys dat hulle murg in hulle pype en moed in hulle hart het tydens die uitdagende IM 70.3 Ysterman-kompetisie wat in Durban aangebied is. Op 19 Junie behaal Dawie Janse van Rensburg vir Potchefstroom die 2de keer vanjaar ‘n eersteplek by die Half-Ysterman kompetisie. Dit nadat Zoli Nebe de Kock in …

Potchefstromers het weer eens gewys dat hulle murg in hulle pype en moed in hulle hart het tydens die uitdagende IM 70.3 Ysterman-kompetisie wat in Durban aangebied is.
Op 19 Junie behaal Dawie Janse van Rensburg vir Potchefstroom die 2de keer vanjaar ‘n eersteplek by die Half-Ysterman kompetisie. Dit nadat Zoli Nebe de Kock in Januarie haar ouderdomskategorie gewen het in Oos-Londen. Dawie het haar opgevolg met ’n wen in sy ouderdomskategorie by dié IM 70.3 in Durban.
27 Potchefstromers het die Ysterman aangepak. Die naweek het egter nie vir almal verloop soos wat dit moes nie. Saterdag se oefenswem is gekanselleer nadat talle atlete in die moeilikheid beland het vanweë sterk systrome. Daar was dus groot onsekerheid of die swem van 1.9km Sondag sou plaasvind.

Sondagoggend het aangebreek en die meeste atlete het met afwagting reggemaak vir die swem, want dit is waarvoor hulle daar was – swem (1.9km), fietsry (90km) en dan hardloop (21.1km). Die 70.3 verteenwoordig die totale afstand van die kompetisie in myl.

Omstreeks 06:30 het die aankondiging deurgekom dat die swem met 30 minute uitgestel is, maar kort daarna is die swem egter vir alle “age groupers” gekanselleer. Slegs die pro-atlete sou nog swem. Nadat die pro-atlete uit is op die fietsry-been, het die “age groupers” in klein groepies van 5-10 elke 5 sekondes weggetrek. Die rede hiervoor is omdat daar nie met half-of-vol Ysterman “gedraft” mag word nie. Die gladde M4 motorweg het vir vinnige fietsry tye gesorg, wat vir sommige wel moeilikheid op die 21.1km hardloop veroorsaak het.

Hannes Jonker het van die Potchefstromers die sterkste fiets-been van die dag gehad en die 90km in ‘n tyd van 2:20:51 afgelê. Hy het aan die einde van die dag, na die hardloop, 5de in sy ouderdomskategorie geëindig. Zoli het die vinnigste onder die dames gefiets en gehardloop in tye van 2:39:28 en 1:53:39. Sy het 6de in haar ouderdomskatergorie geëindig.

Die warm Durban son en fietsry het by talle sy tol geëis. Dawie Janse van Rensburg het ‘n goeie dag beleef op die fiets en veral sy hardloop was baie sterk. Hy het die fietsry in 2:26:01 afgelê en die 21.1km in ‘n tyd van 1h23 kafgedraf, waarmee hy die derde vinnigste hardlooptyd vir die dag behaal het en ‘n algehele 9de plek op die dag van alle ouderdomsgroepe. “Ek gee net die eer aan die Here vir die goeie prestasie wat hy nie in eie krag kon vermag nie,” sê Dawie.

Nog ‘n Potch-uitblinker op die dag was Cor Leijenaar wat 4de in sy ouderdomskategorie geëindig het en die derde plek met ‘n skamele 15 sekondes gemis het.
Dawie deel sy passie en liefde vir die sport deur in sy vrye tyd ‘n driekamp groep, Tri Squad Potchefstroom af te rig en sy prestasie sowel as die atlete wat onder hom oefen se prestasies by die Ysterman-kompetisies spreek boekdele. Die groep wil graag van die geleentheid gebruik maak om hom te bedank vir sy uitstekende afrigting en ondersteuning. Zoli Nebe de Kock en Cheri Oosthuizen gaan op 4 September aan die IM 70.3 wêreldkampioenskappe in Queensland, Australië deelneem.

Potchefstromers wat die IM 70.3 Durban voltooi het is:
Jana Jonker, Zack en Sonja van der Merwe, Duane Maarten, PZ Oberholtzer, Alfred en Naomi Nebe, Mienke Nebe, Willie de Kock, Japie en Jacklyn Kruger, Tjaart van der Merwe, Ferdie Huisamen, Werner Oosthuizen,Christoff Briers, Daan de Waal, Leonard Lindeque, Mark Willemse, Johan van der Westhuizen, F.G Brand, Lizzy Taute en Juanita Kruger.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button