Potch Dorp wys Leeudoringstad wie is baas

Potch Dorp se eerstespan het bewys dat aanval die beste vorm van verdediging is toe hulle verlede Saterdag, 2 Julie teen die geharde Leeudoringstad agt drieë in ‘n 50-29 oorwinning op Potch Dorp se velde in die Neserliga behaal het. Die drie van die wedstryd en miskien die seisoen gaan aan Albert Griessel wat na …

Potch Dorp se eerstespan het bewys dat aanval die beste vorm van verdediging is toe hulle verlede Saterdag, 2 Julie teen die geharde Leeudoringstad agt drieë in ‘n 50-29 oorwinning op Potch Dorp se velde in die Neserliga behaal het.

Die drie van die wedstryd en miskien die seisoen gaan aan Albert Griessel wat na ‘n uitstekende breek van sowat 50 meter, onder die pale gaan kuier het. Griessel se spoed en balhantering was puik en met slegs 10 meter oor, het hy die bal na Janus Lombard aangegee, waarna Lombard weer ‘n briljante aangee terug na Griessel besorg het om die Leeutjies se verdediging behoorlik te laat kopkrap.

Potch Dorp het die tweede helfte oorheers nadat hulle 29-26 teen halftyd agter was. Die groot rede vir die agterstand in die eerste helfte was ‘n gebrek aan dissipline, sowel as ‘n paar taktiese foute. Dorp het wel ‘n paar gemaklike drieë gedruk en ‘n mens kon sien dat Leeudoringstad se verdediging ontbloot kon word.

Die tuisspan se kaptein en skrumskakel, Ruveix de Bruyn, was ’n spreekwoordelike doring in Leeudoringstad se vlees en het die eerste van sy twee drieë vroeg gaan druk om Dorp se eerste punte aan te teken. Wéan Benadie het ook twee drieë vir Dorp gaan druk, sowel as vyf skoppe met sy bestendige skopvoet oorgeklits.

In die tweede helfte is die drie-krane oopgemaak met Henco Burger se onderskepdrie en Daniël van Zyl wat ook agter die pale gaan kuier het. Die gees was hoog en die adrenalien het behoorlik gevloei – in so ‘n mate dat die manne vyf minute voor die einde mekaar goed leer ken het. Die skeidsregter moes ingryp en sodoende is Luan Kruger koelkas toe gestuur. In so ‘n aggressiewe stryd is sulke oomblikke maar deel van die spel.

Desmond Mmolowa was die eerstespan se speler van die wedstryd.Potch Dorp is teen druktyd tweede op die Neserligatabel met 34 punte, gelyk met Lichtenburg wat slegs deur middel van ‘n groter punte verskil die eerste plek beklee. Potch Dorp se tweede span het ook hulle wedstryd teen Leeudoringstad met 41-8 oortuigend gewen.Takkie van Staden is hier die speler van die wedstryd vir die tweedespan. Hulle is tans derde op die tabel met 23 punte, ‘n kortkop agter Lichtenburg en Mafikeng wat albei op 26 punte staan.

Die Potchefstromers se volgende wedstryd op 16 Julie gaan ‘n titaniese kragmeting teen Lichtenburg wees. Die halfeindstryde vind op 30 Julie en die eindstryd op 6 Augustus plaas.Die voorsitter van Potch Dorp Rugbyklub, dr. Jan Janse van Rensburg is ook beïndruk met die span se spelpeil hierdie seisoen. “Die kanse lyk goed dat beide Potch Dorp se eerste en tweede spanne die halfeindstryde sal haal,” het hy genoem.

* Potch Dorp het gisteraand (Woensdag, 6 Julie)  teen Lonmin in die  Neserliga gespeel en met 23-17 verloor.

Kyk al die aksiefoto’s van Potch Dorp se wedstryd teen Leeudoringstad hier: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/18050/potch-dorp-sit-vir-leeudoringstad-ore-aan/

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version