SportSport

Ysternooi voltooi bergfietswedren ondanks klipharde val

Vir ‘n vierde keer durf Potch Volkies se bergfietssensasie, Kristen “Nooi” Louw, die steil en klipperige afdraandes van die Pietermaritzburg Bergfietsren in ‘n oefenrondte op Woensdag, 27 April aan. Alles is in beheer totdat haar bergfietsvoorwiel meegee en sy kliphard met haar gesig eerste die grond tref. Sy staan op, hou haar gesig vas en …

Vir ‘n vierde keer durf Potch Volkies se bergfietssensasie, Kristen “Nooi” Louw, die steil en klipperige afdraandes van die Pietermaritzburg Bergfietsren in ‘n oefenrondte op Woensdag, 27 April aan. Alles is in beheer totdat haar bergfietsvoorwiel meegee en sy kliphard met haar gesig eerste die grond tref. Sy staan op, hou haar gesig vas en meteens hardloop sy weg van haar stukkende fiets af. Sy is in totale skok en pyn terwyl die trane haar rou wonde tref.
“Ek het aan my gesig gevat en geweet iets is vreeslik verkeerd. Dit was baie erg om die bloed te sien loop. Ek het net gedink hoekom my gesig?”
Haar afrigter, ouers en familie het haar dadelik gehelp om die nodige mediese hulp te kry.

Kristen "Nooi"Louw het hierdie terrein op haar bergfiets weer aangedurf na haar val.
Kristen “Nooi”Louw het hierdie terrein op haar bergfiets weer aangedurf na haar val.

Hulle is inderhaas na ‘n hospitaal in Pietermaritzburg om haar geskeurde onderlip tydens ‘n operasie met 15 oplosbare steke te heg en ander wonde en skaafplekke aan haar gesig te behandel.
Op Saterdag, 30 April, slegs drie dae na haar val, was sy wonderbaarlik gereed vir aksie en eindig sy vyfde in die junior damesafdeling en behou die tweede plek op die UCI tabel in haar ouderdomsgroep.

“Ek het te ver gekom om nie deel te neem nie. Daar was niks fout met my bene nie, so ek het geweet ek kon ry al het ek baie pyn gehad.”

“Die ondersteuning van almal was ook absoluut ongelooflik,” vertel dié vasbyter.
“My pa se niggie, Lee Ann Mouton, wat ‘n verpleegster is, het my baie gedurende die wedren gehelp en my wonde skoongemaak. My pa (Arno) het my ook heeltyd ondersteun en ek was dankbaar dat hy saam met my was. Dit was vir hom ook ‘n groot skok. Ek wil ook vir my afrigter Frans van der Berg (Turbo Snails), sy vrou Karen en almal van die groep bedank vir al hulle hulp en bystand,” voeg Nooi by.

Dit is juis hierdie ondersteuningsraamwerk wat Nooi laat aanhou het en nooit moed laat opgee nie.

“Mense het vir my gebid en ek het talle boodskappe van almal gekry wat wou weet of ek goed herstel. Ek is geseënd dat my oë niks oorgekom het nie omdat ek ’n bril gedra het tydens die val.”

Vandag (Donderdag) berei sy reeds voor vir die volgende SA Cup MTB XCO #4 wat Saterdag, 14 Mei in Port Elizabeth plaasvind.
“Ek het goeie verwagtinge vir hierdie wedren, hopelik was hierdie val nou die heel laaste een,” sê sy met braafheid in haar stem en ‘n sprankel in haar oog.

Hier is nog stories oor Kristen Louw vanjaar: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/11286/volkies-fietsryers-gekies-vir-afrika-fietsryspan/

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/10821/van-skoolbank-na-sportveld-nooi-louw/

 

Related Articles

Back to top button