SportSport

Luiperds se treurmare duur voort

Die Luiperds bevind hulle na die 43-31 nederlaag teen Boland die afgelope Saterdag saam met die Valke heel aan die onderpunt van die provinsiale-liga wat ook as kwalifisering vir die ware Curriebeker dien. Beide spanne kon nog net een oorwinning uit vier kragmetings behaal en het sewe ligapunte elk. Aan die bokant van die punteleer …

Die Luiperds bevind hulle na die 43-31 nederlaag teen Boland die afgelope Saterdag saam met die Valke heel aan die onderpunt van die provinsiale-liga wat ook as kwalifisering vir die ware Curriebeker dien.

Beide spanne kon nog net een oorwinning uit vier kragmetings behaal en het sewe ligapunte elk. Aan die bokant van die punteleer spog Griekwas met vyf oorwinnings in net soveel wedstryde en hulle het 24 ligapunte. Boland lê in die tweede plek met 16 punte na drie oorwinnings. Die Pumas het 15 punte en drie spanne het 14 punte: die Griffons. SWD en Grens.

Die Luiperds pak Grens Vrydagaand in Oos-London in hulle volgende wedstryd.

Twee oud-Luiperds het Saterdag die botoon vir Boland teen die Luiperds gevoer. Voor die Luiperds nog hulle voete kon vind het die oud-Puk en Namibiese Wêreldbekerspeler, Theuns (Worsie) Kotze en Sergio Torrens gaan druk. Kotze het albei verdoel en die besoekers was 14-0 voor. Jeandré Rudolph het sy gebruiklike kapteinsdrie gaan druk om die gaping effe te laat krimp, maar Kotze het na hy met een poging misluk het, later met ‘n strafdoel geslaag om die telling na 17-5 te neem.

Johan Deysel het daarna getoon waarom hy so ‘n hoogaangeskrewe speler is en hy gaan druk die Luiperds se tweede drie na ‘n puik breekslag en ‘n lopie van goed by die 50 meter. Losskakel Schalk Hugo verdoel en die spelers gaan soek lafenis met die Boland 24-12 voor na Torrens reg teen die einde van die eerste helfte die bal onderskep en gaan druk. Kotze verdoel.

Kotze het die sweep bly klap in die tweede helfte en sommer vroeg sewe punte bygevoeg. Nog ‘n Boland drie, verdoel deur Kotze het die Luiperds na hulle asem laat snak: die telling 38-12. Drie drieë in die laaste klompie minute (Deysel, Willemse en Rudolph) en twee doelskoppe het die Luiperds se telling effe beter laat lyk maar na nog ‘n Boland drie was die eindtelling 43-31 in die besoekers se guns en die Luiperds stap met net een bonuspunt van die veld af.

Die pad na kwalifisering is nou uiters steil en niks minder nie as ‘n wonderwerk sal nodig wees om die Luiperds vanjaar saam met die ware groot honde te laat blaf.

As die Luiperds dit net kan regkry om wedstryde te begin soos hulle eindig, gaan baie teenstanders langs die pad sneuwel. Die span het in die laaste twee wedstryde op die voorvoet geëindig, maar die agterstand was net te groot.

Related Articles

Back to top button