SportSport

Gewese Flames-kaptein gryp geleenthede in KZN aan

Toe die netbalspeler Elsunet du Plessis aankondig sy verhuis na KwaZulu-Natal was daar aanvanklik ’n vrees dat dit die Noordwes-Flames erg sou verlam. Nie net was sy hulle kaptein nie, maar ook hul mees ervare speler en enigste huidige Protea-speler. Maar dit was net die geleentheid wat Renske Stolz nodig gehad het en een wat …

Toe die netbalspeler Elsunet du Plessis aankondig sy verhuis na KwaZulu-Natal was daar aanvanklik ’n vrees dat dit die Noordwes-Flames erg sou verlam.

Nie net was sy hulle kaptein nie, maar ook hul mees ervare speler en enigste huidige Protea-speler.

Maar dit was net die geleentheid wat Renske Stolz nodig gehad het en een wat sy met alby hande in die Brutal Fruit-reeks aangegryp het en eensklaps voel Du Plessis se vertrek nie meer na so ’n gevoelige slag nie.

Die 28-jarige Du Plessis, wat verlede jaar ná ’n lang gewag haar buiging vir die nasionale span gemaak het en die groep na die Wêreldbeker gehaal het, het gevoel dis tyd vir ’n nuwe omgewing en uitdaging.

“Ek was 14 jaar lank in Potch (sy het aan die Hoër Volkskool Potchefstroom matrikuleer). Daar was nie ’n spesifieke rede vir die skuif nie. Dit was maar ’n geleentheid wat oor my pad gekom het.

“As jy na Durban en die see kan skuif, hoekoem nie? Ek glo ’n mens moet oop wees vir nuwe ervaringe,” het sy gesê.

Sy is as afrigter en vir netbalontwikkeling by Crawford College, North Coast buite Durban betrokke.

Kiekie, soos sy in netbalkringe bekend is, het die Flames die vorige twee jaar in die Premierliga en die Pukke in 2013 se Varsity-reeks aangevoer. Sy was in die hoedanigheid as sportwetenskaplike by verlede jaar se Pukke-span betrokke wat die Varsity-kroon verower het.

Sy speel vanjaar vir die KwaZulu-Natal se Kingdom Stars en die span het Vrydagaand met 39-36 teen die Flames vasgeval.

Du Plessis, vernaamlik ’n hulpdoel, word gereeld deur die Kingdom Stars as aanvallende vleuel ingespan.

“Ek het dit lanklaas gespeel en is ’n nuwe ding, maar ’n lekker uitdaging. Ek geniet dit om iets nuuts te probeer. Ek glo AV sal my spel op HD help waar jy met minder ruimte vinnig moet beweeg.”

Sy ervaar nie haar rol as senior speler veel anders as by die Flames waar sy ’n sleutelspeler was nie.

“Die druk verskil nie regtig nie, dit bly steeds netbal. Hier is ander Proteas ook wat leiding gee en wat die druk saam hanteer.”

Die Flames het in hulle ander wedstryd van die naweek met 52-elk teen die Noord-Gauteng Jaguars gelyk gespeel en is nog onoorwonne. Die Flames pak Saterdag in die Ellispark-rena in Johannesburg die Limpopo-Baobabs en Sondag om 10:30 die Noord-Kaapse Diamonds.

Related Articles

Back to top button