Waldouw reik na die sterre

Waldouw Smit se droomseisoen duur net voort. Dié leerling van Potchefstroom Gimnasium het verlede Vrydagaand tydens die senior kompetisie die spies 79.92 meter ver geslinger. Die afstand is 59cm verder as die huidige SA o.17 rekord maar sal nie as rekord erken word nie, omdat dit tydens ‘n senior kompetisie behaal is. Sover bekend is …

Waldouw Smit se droomseisoen duur net voort.

Dié leerling van Potchefstroom Gimnasium het verlede Vrydagaand tydens die senior kompetisie die spies 79.92 meter ver geslinger.

Die afstand is 59cm verder as die huidige SA o.17 rekord maar sal nie as rekord erken word nie, omdat dit tydens ‘n senior kompetisie behaal is. Sover bekend is dit beste afstand hierdie jaar in die wêreld vir o.17 spiesgooiers.

Waldouw is ook die enigste Noordwes atleet om in die SA Jeugspan van 26 lede ingesluit te word.

Die insluiting het gevolg op sy goud in beide die SA Sekondêre skolekampioenskap en die SA Jeugkampioenskap. Die verbetering in sy afstande is indrukwekkend: In 2012 het hy as o.13 atleet 33.0 meter gehaal.

Die volgende jaar het hy met 10 meter verbeter: 43.12 en steek as o.15 atleet die magiese 50 meter grens oor: 53.28. In sy eerste jaar as o.17 atleet raak-raak hy aan 70 meter (67.48) en vanjaar ontplof hy met ‘n 79.92 en is die ander magiese afstand van 80 meter net ‘n hupstootjie weg.

*Waldouw word deur sy oupa, Koos Smit, afgerig. Die 81-jarige Smit was self die SA 10-kamp kampioen in 1958 en het al talle SA kampioene opgelewer. Hy is een van die oudste aktiewe afrigters in die land en atlete ry ver om onder sy hande te leer.

Exit mobile version