SportSport

SA driekuns vir Semenya

Vier ongelooflike ure van goue glorie was tot dusver die kroon van Caster Semenya se Potch-avontuur. Stellenbosch was die verhoog waar Semenya weer die wêreld op hol gehad het toe sy nie net in 400-, 800- en 1500 meter items deelgeneem het nie, maar almal ook op ‘n drafstap gewen het – die eerste atleet …

Vier ongelooflike ure van goue glorie was tot dusver die kroon van Caster Semenya se Potch-avontuur.

Stellenbosch was die verhoog waar Semenya weer die wêreld op hol gehad het toe sy nie net in 400-, 800- en 1500 meter items deelgeneem het nie, maar almal ook op ‘n drafstap gewen het – die eerste atleet in SA geskiedenis om dié driekuns te vermag.

In haar groen, rooi en wit Noordwes-atletiekdrag het sy geskiedenis gemaak toe sy drie goue medaljes losgehardloop het by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe wat Vrydag en Saterdag 15 en 16 April plaasgevind het en boonop almal in wêreldklas tye. Nou skuif haar groot droom na die Olimpiese Spele in Rio waar sy in haar groen en goud atletiekdrag die eerste Suid-Afrikaanse vrou kan word wat die goue medalje in die 800 meter verower.

“Ek het eers gedink dat dit moeilik gaan wees om aan al die items deel te neem, maar Caster was voorbereid en doelgerig. Sy het my werklik verbaas,” sê haar afrigter Jean Verster, wat ‘n groot aandeel in Semenya se onlangse sukses het nadat sy in 2014 by hom aangesluit het.

“Dit was ‘n deurbraak oomblik vir Caster toe sy haar persoonlike beste en die vinnigste nog vanjaar in die SA 400 meter finaal met ‘n 50.76 behaal. Dit was twee sekondes vinniger as haar vorige beste tyd. Dit het haar daardie ekstra momentum vir die ander twee wedlope gegee.”

Verster meen dat die 25-jarige Semenya se voorbereiding en deelname aan die 400- en 1500 meter vanjaar haar in ‘n goeie posisie stel om topfiks vir die 800 meter te wees.

“Ons het baie aan haar uithouvermoë en fiksheid gewerk met die 1500 meter en met haar krag in die 400 meter. Verlede jaar het sy een swak tyd gehardloop en toe skryf baie mense haar af. Ons het haar kondisionering verskriklik verbeter en op die basiese goed bly fokus. Sy geniet Potchefstroom en die fasiliteite hier. Dit is haar huis. Hierdie jaar het sy volstoom begin en in Potchefstroom by die Noordweskampioenskappe haar staal gewys,” verduidelik hy.

Een van die groot uitdagings vir Verster-hulle was dat daar min tyd tussen die items sou wees om te rus en fisies en sielkundig reg vir die volgende wedloop te wees.

“Daar was net 45 minute tyd tussen die 400 meter en die 800 meter finale en met die media-aandag na die 400 meter oorwinning was daar nog minder tyd. Caster wou onder twee minute hardloop en was teleurgesteld toe sy nie in die uitdunne die Vrydag dit kon haal nie. Ek het vir haar gesê dat sy op die goue medaljes moet fokus.”

Wonder bo wonder haal Semenya toe ‘n skitterende tyd van 1:58.46 in die finaal en maak dit twee in ‘n ry met net die 1500 meter wat voorlê vir ‘n gesogte driekuns en herskrywing van die rekordboeke.

“Ons het voor die tyd presies voorspel hoe die 1500 meter sou verloop. Sy het vir Dominique Scott, wat die spoed gehandhaaf het, op die laaste rondte ingehaal en toe gemaklik gewen met ‘n tyd van 4:10. Sy was verskriklik bly,” vertel Verster.

Volgens Verster mik Semenya na nog ‘n driekuns by die USSA’s waar sy Pukke in haar geboorteprovinsie van Limpopo hierdie naweek gaan verteenwoordig. “Dit gaan ‘n grote wees vir Caster om op hierdie kruin van sukses voor te bou en haar tuisskare bly te maak. Sy sien baie uit daarna.” Tog is die Olimpiese Spele die groot ene waar sy slegs die 800 meter gaan hardloop om seker te maak dat sy haar alles gee in haar beste item.

“Die Olimpiese Spele is so belangrik. Elke rondte moet jy gefokus wees. Die belangrikse is om aan Caster se spoed te werk en om haar sterk en beseringvry te hou.”

Verster het baie hoop vir Semenya wat weer op haar beste lyk en dit in ‘n Olimpiese jaar. Wie weet, daar wag dalk weer skeepsreg vir Semenya in 2020.

Soortgelyke Stories

Semenya powers to victory in first Varsity Athletics meeting

Related Articles

Back to top button