Verhoor sal Pukke se lot bepaal

Skaars ’n week nadat NWU-Pukke die 2016 Varsitybeker gewen het, is daar onrus nadat die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) ’n klag teen die Pukke gelê het. Die klag handel oor Puk-speler, Bart le Roux, wat na bewering nie voldoen het aan die spelervoorvereistes in die Varsitybekerreeks nie. Die Varsitybekerraad ondersoek tans die klag en ‘n …

Skaars ’n week nadat NWU-Pukke die 2016 Varsitybeker gewen het, is daar onrus nadat die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) ’n klag teen die Pukke gelê het.

Die klag handel oor Puk-speler, Bart le Roux, wat na bewering nie voldoen het aan die spelervoorvereistes in die Varsitybekerreeks nie. Die Varsitybekerraad ondersoek tans die klag en ‘n verhoor sal Saterdag plaasvind. Albei partye sal ook ’n geleentheid hê om teen die bevinding te appélleer.

Die kwessie is dat Le Roux vir ‘n tweede keer as eerstejaar deelgeneem het. Dit nadat hy voorheen vir die UKZN Impi in 2014 uitgedraf het. Volgens die Varsitybeker-reëls mag spelers nie twee keer as ’n eerstejaar aan die reeks deelneem nie.

Tog was die reëls anders in 2014, toe twee spelers wat nie studente was nie, in die Varsityskildreeks kon deelneem.

Die UKZN-Impi-span het juis hierdie jaar die reëls gebreek en is twee weke gelede met 12 ligapunte vir dieselfde oortreding beboet toe  hulle haker, Kerron van Vuuren, beboet is. Indien Pukke skuldig bevind word, kan hulle glo met 10 ligapunte beboet word wat beteken dat hulle tegnies nie in die eindstryd sou kon speel nie.

Op navraag oor die dispuut wou die Puk-Rugbyinstituut se bestuurder, mnr. Mervyn Taylor nie kommentaar lewer nie en net gesê dat die saak deur die Varsitybekerraad hanteer word.

Volgens Jaco-Louis Groenewald, hoof van openbare betrekkinge by die Varsitybeker, word die saak eers deeglik ondersoek.  “Dit is te vroeg om te spekuleer. Ons sal eers op ’n latere stadium die besluit kan kommunikeer.”

Potchefstromers sê op Facebook dis ’n geval van mosterd na die maal.

Volgens JC van Niekerk is dit “belaglik om nou die dam onder die eend uit te ruk,” terwyl Drikus Erwee en ’n paar ander dit as ’n geval van “suur druiwe,” sien. Potchefstromers sal op naalde en spelde sit en wag vir Saterdag.

* Hou die Herald se webblad dop vir die nuutste verwikkelinge oor dié dispuut. 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version