Hokkiespelers wil Spanje-droom bewaarheid

Drie van Potch se skolehokkiespelers het die kans van ‘n leeftyd om hulle talente en vaardighede in Spanje te gaan opskerp. Gherrit Doinet, Dylan Durand en Hannes Conradie is vir die uitgesoekte Arthur Johnson Uitnodigingspan gekies wat vanaf 28 September tot 7 Oktober na Barcelona, Spanje gaan toer en teen Spanje se beste o.18 hokkiespanne …

Drie van Potch se skolehokkiespelers het die kans van ‘n leeftyd om hulle talente en vaardighede in Spanje te gaan opskerp.

Gherrit Doinet, Dylan Durand en Hannes Conradie is vir die uitgesoekte Arthur Johnson Uitnodigingspan gekies wat vanaf 28 September tot 7 Oktober na Barcelona, Spanje gaan toer en teen Spanje se beste o.18 hokkiespanne gaan meeding.

Dit het alles vir dié leerlinge van Hoërskool Ferdinand Postma gebeur nadat hulle die afgelope vakansie in die Arthur Johnson Sportweek in Mosselbaai by Hoërskool Punt beïndruk het.

Dit is ‘n groot prestasie vir hierdie Potchefstroomse seuns om op nasionale vlak erkenning vir hulle passie en harde werk op die hokkieveld te kry. Om die top 16 uit 300 seuns gereken te word, vat nogal iets ysliks.

Afrigter, Louis Janse van Rensburg moedig Ferdies se Eerste hokkiespan aan.

“Dit was vir ons nogal onwerklik. Dit is iets wat ‘n mens eers ‘n dag na die tyd besef,” sê Dylan.

“Dit is ‘n groot eer om as die beste speler in jou posisie gekies te word,” voeg Gherrit by.

Gherrit en Dylan speel al hokkie van graad 8 af, met Hannes wat ietwat langer die hokkiestokke vanaf graad 4 swaai.

“Om ‘n internasionale wedstryd in ‘n ander land te speel en nuwe goed daar te ontdek, maak ons opgewonde,” noem Dylan.

Die hokkieseuns is wel op soek na borge sodat hulle die toer kan meemaak, aangesien dit baie duur kos.  Enigeen wat die seuns wil borg, kan Gherrit by 073 749 1929, Hannes by 083 653 2006 en Dylan by 079 922 2209 kontak.

Exit mobile version