Aanhouer wen: Vyf groot oomblikke in die 2016 Varsitybeker-eindstryd:

Soos Lasarus van ouds, het Jonathan Mokuena se NWU-Pukke in die 2016 Varsitybeker-eindstryd teen Maties Maandag in Stellenbosch uit die doodskloue opgestaan en hulle bekerdroom met ‘n 7-6 oorwinning bewaarheid. Die krulkop flank, Marno Redelinghuys, se drie in die doodsnikke na ‘n verstommende 88 minute van klipharde rugby, het nuwe lewe in Pukke se harte …

Soos Lasarus van ouds, het Jonathan Mokuena se NWU-Pukke in die 2016 Varsitybeker-eindstryd teen Maties Maandag in Stellenbosch uit die doodskloue opgestaan en hulle bekerdroom met ‘n 7-6 oorwinning bewaarheid.
Die krulkop flank, Marno Redelinghuys, se drie in die doodsnikke na ‘n verstommende 88 minute van klipharde rugby, het nuwe lewe in Pukke se harte gepomp. Rhyno Smith se koel en kalm doelskop het die rugbywonderwerk bevestig. Pukke kan nou uiteindelik feesvier en die hartseer herinneringe van die verlede vergeet.

Dit was pure vasberadenheid en wilskrag van die eerste fluitjie af met albei spanne wat mekaar nie ‘n enkele kans gegee het nie. Soos swaargewigboksers het hulle houe gevat en houe uitgedeel, elkeen so vuisvoos soos die ander na ‘n puntlose eerste helfte.

Maties het die eerste punte van die wedstryd in die tweede helfte aangeteken met Chris Smith wat ‘n strafskop oorgetik het. Hy het Maties se 81% balbesit verder benut toe hy met ‘n tweede strafskop geslaag het om die telling na 6-0 te stuur. Vir die volgende 15 minute was Maties in beheer met hulle voorspelers, Beyers de Villiers en Kobus van Dyk, wat begin het om oor te neem.

 

Geluk het wel na Pukke se kant toe gekom met Rhyno Smith se tikskoppie wat amper in ‘n drie vir Dean Stokes verander het. Vir die volgende 10 minute het Pukke op Maties se vyf meter lyn gekamp, vuur onder die Matiepak gemaak en seker gemaak dat hulle nie loop sonder om die oorwinning te proe nie. Met Redelinghuys se drie was die Maties tjoepstil op die pawiljoen, in ‘n ander bloedgroep in geskok na hulle span hierdie stryd verloor het.

 

“Dit was baie spanningsvol, maar ons met karakter gewen. Die ondersteuning van al die Pukke was ongelooflik,” het Pukke afrigter, Jonathan Mokoena genoem. Die Varsitybeker is voor Maties se neuse weggeraap en nou is dit neusie verby vir hulle. Pukke is die konings en dra nou die kroon.

Vyf groot oomblikke in die 2016 Varsitybeker-eindstryd:

1) Redelinghuys se wendrie
Pukke se doelgerigtheid en vasbytvermoë was iets om te aanskou, veral in die laaste 10 minute toe elf skrums en talle strafskoppe vir Maties paniekbevange gehad het.
Maties se Remu Malan en Chris Smit is boonop met geel kaarte afgestuur.
Redelinghuys tel die bal op en verseker sy naam in Pukke se rekordboeke. Die lywe was seer, maar die geloof was daar om deur te druk. Dit sou ‘n skreiende skande wees as Pukke nie het nie, want skeidsregter Lourens van der Merwe moes ‘n strafdrie toegeken het na die hoeveelste strafskop.

2) Maties mik nie pale toe nie
Maties het ‘n paar geleenthede gehad om die eerste punte aan te teken, maar het eerder kantlyn toe geskop om ’n moontlike drie te kry. Dit sou hulle later aan die hakskeen byt. Maties se losskakel, Chris Smith, mis ook ‘n strafskop wat Maties ‘n voorsprong van nege punte sou gee.

3) Was dit ‘n strafdrie?
Rhyno Smith sit ‘n tikskoppie deur, Dean Stokes gaan vir die bal, maar Paul Streicher, Maties se buitesenter, val op Stokes voor hy die bal het. Vir baie Pukke-ondersteuners het dit soos ‘n drie gelyk, maar is nie toegeken nie.

4) Barry se hande is glad
Craig Barry het ‘n goeie wedstryd gehad en kon maklik die wedstryd vir die Stellenbosch troepe verseker het, maar het die bal vorentoe laat val nadat hy sy eie skoppie gejaag het. Die drielyn het sy naam geroep, maar hy kon nie antwoord nie.

5) Smith se duikslag red Pukke
Nog ‘n groot oomblik was toe Maties se plaasvervangervleuel, Brandon Asher Wood, die bal danksy briljante kruisverdediging van Rhyno Smith, vorentoe laat val het. Indien hy sou druk, sou Maties met 15-0 voorgeloop het.
Smith se duikslag herinner aan Springbok JP Pietersen s’n teen Fidji in die 2007 Wêreldbeker, wat in daardie wedstryd ook net so kritiek was. Verdediging was vir Pukke die groot wenner.

Exit mobile version