SportSport

Pukke deur na eindstryd met kragtige UJ sege

Soos die mure van Jerigo het UJ vanaand op hulle tuisveld in Johannesburg met 35-7 geval toe die besoekende Pukke span soos een man in die Varsitybekerhalfeindstryd op hulle neergesak het. Die UJ stadion is vanaand (4 April) in ‘n mini Fanie verander met honderde Pukke ondersteuners wat hulle geliefde Varsitybekerspan teen UJ ondersteun het. …

Soos die mure van Jerigo het UJ vanaand op hulle tuisveld in Johannesburg met 35-7 geval toe die besoekende Pukke span soos een man in die Varsitybekerhalfeindstryd op hulle neergesak het.

Die UJ stadion is vanaand (4 April) in ‘n mini Fanie verander met honderde Pukke ondersteuners wat hulle geliefde Varsitybekerspan teen UJ ondersteun het. Pukke het soos die Israeliete van ouds saamgestaan – lanklaas so baie Pukke in Johannesburg op ‘n Maandagmiddag. Hulle gees was duidelik een van die groot faktore in Pukke se oorwinning.

Die ander faktore was ‘n begeesterde agterlyn wat UJ soms disnis gehardloop het, sowel as die skerp skopvoet van Rhyno Smith.

NWU Pukke kaptein, Jeandre Rudolph het sy span soos Joshua gelei en met doelgerigtheid en self dissipline het hulle een van hulle beste vertonings nog gelewer.

NWU Pukke het voortreflik uit die blokke gespring met Rhyno Smith wat die eerste punte met ‘n strafskop gedruk het.

Kort daarna het ‘n praglopie van Lucian Cupido aan die regterkantlyn vir Pukke se eerste drie gesorg. Hy is net voor die doellyn gestuit, maar vinnige bal uit die losgemaal het vir Pukke die kans gegee om UJ onkant te betrap en Sylvian Mahuza is oor die doellyn. Smith verdoel die drie en Pukke is 12-0 voor.

Marno Redelinghuys word deur Siya Nzuzo grond toe gestuur. Foto: Christiaan Kotze:SASPA.
Marno Redelinghuys word deur Siya Nzuzo grond toe gestuur. Foto: Christiaan Kotze:SASPA.

UJ se losskakel Divan Nel kon nie met twee maklike strafskoppe slag nie wat die druk verder op UJ geplaas het.

‘n Paar onnodige foute het UJ nie verder gehelp nie en Pukke kon bietjie asem skep.

Die Johannesburgers kon toe uiteindelik net voor halftyd hulle eerste drie druk toe die skrumskakel, Devon Mare, oorgegaan het. Nel het verdoel wat die telling na 12-7 gebring het.

‘n Rugbybal kan ‘n snaakse ding wees en hy het gelukkig Pukke se kant toe gespring toe Mahuza sy tweede drie onder die pale gaan druk het. Dit was net te maklik vir Pukke. Smith het toe kort voor half-tyd UJ se gemoed met ‘n 50 meter skepskop verkrummel. 29-7 vir Pukke teen half-tyd.

UJ het ‘n baie sterker tweede helfte gehad en alles gegee, maar kon op kritieke tye nie die meeste van hulle balbesit maak nie. Daar was omtrent vier kere wat UJ die bal net voor die doellyn verloor het. Krediet moet aan Pukke se rotvaste verdediging gegee word.

Benhard Janse van Rensburg het 'n uitstekende wedstryd gehad.
Benhard Janse van Rensburg het ‘n uitstekende wedstryd gehad.

Benhard Janse van Rensburg het weer ‘n puik wedstryd gehad en met sy skopvoet die wedstryd beheer. Dit is juis het hierdie skoppe wat UJ frustreer het en die momentum stopgesit het.

Smith het vir oulaas nog twee strafskoppe oorgesit om die oorwinning verder te versier. Met die eindfluitjie het  die Pukke spelers gejubel en gejuig.

‘n Totale spanpoging van spelers, ondersteuners, Pukke alumni en Pukke bestuur sal vir altyd vanaand onthou word.

Nou is daar net nog 80 minute oor.

Speler van die Wedstryd: Benhard Janse van Rensburg

Punte:

Pukke: 35 (29) Drieë: Sylvian Mahuza (2), Doelskoppe: Rhyno Smith (2) Strafskoppe: Smith (4) Skepskop: Smith (1)

UJ: 7 (7) Drie: Devon Mare. Doelskop: Divan Nel (1)

 

Related Articles

Back to top button