SportSport

Pukke troef Madibaz in leë stadion

Op Maandag 14 Maart is die atmosfeer uit die Varsitybeker geruk en nie eers ‘n ikoniese wêreldklas stadion kon iets hieraan doen nie. Normaalweg is die FNB-stadion net buite Soweto ‘n kookpot van dreunende klanke wanneer groot sportwedstryde daar gespeel word. Maandag was sake bra anders, met die leë en tjoepstil stemming wat die Varsitybekerspelers …

Op Maandag 14 Maart is die atmosfeer uit die Varsitybeker geruk en nie eers ‘n ikoniese wêreldklas stadion kon iets hieraan doen nie.
Normaalweg is die FNB-stadion net buite Soweto ‘n kookpot van dreunende klanke wanneer groot sportwedstryde daar gespeel word.

Maandag was sake bra anders, met die leë en tjoepstil stemming wat die Varsitybekerspelers in dié ikoniese stadion moes trotseer. Die NWU Pukke het hulself in ‘n vreemde omgewing bevind, maar glad nie vreemde rugby gespeel nie. Inteendeel, dit was ‘n kliniese vertoning teen NMMU met Pukke wat ‘n wegholoorwinning van 46-18 behaal het.

Die manne van Potchefstroom was te goed vir die Madibaz en het in reënerige omstandighede die wedstryd van die eerste minuut af beheer. Pukke was na ‘n blaaskans van twee weke vars en reg vir aksie. Dit is in die vierde minuut bewys toe Sylvian Mahuza ‘n uitstekende negepunt-drie gedruk het. Mahuza was aan die voortou by meeste aanvallende bewegings en het met reg die Speler van die Wedstryd-toekenning ingepalm.

Rhyno Smith was ook weer op sy stukke sowel as Elden Schoeman wat op regtervleuel sy eerste wedstryd in die begintal gespeel het. Pukke het NMMU letterlik en figuurlik in die voorry gedomineer en het vir hulle harde werk ‘n strafdrie gekry om die punte na 25-0 te skuif. Die span van Port Elizabeth kon wel vir ‘n kort rukkie asemhaal toe Henry Brown net voor halftyd gaan druk het, om die telling na 25-7 te bring.

Benhard Janse van Rensburg het sy A-spel gebring en het weer bewys dat talent en nie ouderdom, ‘n goeie rugbyspeler bepaal. Sy opportunistiese drie na ‘n tikskoppie het bewys dat die jong man ook ’n skerp rugbybrein het. Mahuza en haker, Louis van der Westhuizen, het ook in die laaste paar minute vir Pukke onder die pale gaan kuier om die finale telling na 46-18 te bring.

Pukke gaan volgende Maandag teen Maties te staan kom, wat vooraf as een van die wedstryde van die Varsitybeker bestempel is. Maties is tans onoorwonne en beklee die eerste plek op die punteleer. Die manne van Stellenbosch speel briljant en het laas week vir Ikeys in hul peetjie gestuur met ‘n 60-13 oorwinning.

Ongelukkig mag hierdie wedstryd dalk soos ‘n afgewaterde affêre voel, aangesien die wedstryd op ‘n volgepakte Fanie sou plaasvind – iets waarna die studente veral uitgesien het. Nou is dit slegs leë sitplekke en handeklap van hulle spanmaats wat die rugbyspelers begroet.
Die Varsitybeker is terug maar nie soos almal hom ken nie.

“Varsity”is uit die Varsitybeker geruk.

Foto’s: Catherine Kotzé/SASPA

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button