St Stithians eindig Volkies se T20 droom

Die wenner in ’n belangrike krieketwedstryd is altyd die een wat druk die beste hanteer. Ongelukkig vir Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste span het hulle in kritieke oomblikke onder druk geswoeg teen St Stithians College in die Coca Cola T20 Franchise Finaal wat Maandag 7 Maart op die ikoniese Wanderers in Johannesburg plaasgevind het. Volkskool …

Die wenner in ’n belangrike krieketwedstryd is altyd die een wat druk die beste hanteer. Ongelukkig vir Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste span het hulle in kritieke oomblikke onder druk geswoeg teen St Stithians College in die Coca Cola T20 Franchise Finaal wat Maandag 7 Maart op die ikoniese Wanderers in Johannesburg plaasgevind het.

Volkskool het altesaam vyf paaltjies met uithardloopkanse verloor en dit het hulle ten duurste in die 37 lopie nederlaag gekos. Volkies het 161 gejaag, maar kon net op 123/9 in 20 boulbeurte eindig.

St Stithians het eerste gekolf en 160/2 gemaak, met Volkies wat gesukkel het om paaltjies te neem en sodoende die lopietempo te beheer. St. Stithians se Joshua Richards (53) en Wiaan Mulder met (47) was die voorste lopiemakers.

Volkies het hul jaagtog bestendig begin en 27 lopies gemaak voordat dinge begin skeefloop het.

Soos reën ’n piekniek bederf, het swak besluite Volkskool se kanse beduiwel en kort voor lank was hulle 33/4. Toe Martin Fourie vir 8 uitgehardloop is met die telling op 47, was die koeël dwarsdeur die kerk.

Jannie Claassens (22) en Cobus Crowther (40) het sake probeer regstel, maar die terugvegpoging was te laat en St. Stithians kon gemaklik hulle Potchefstroomse teenstanders beperk. Volkies moet nie voel dat hierdie wedstryd ‘n mislukking was nie en kan terugkyk na ’n besondere seisoen.

Exit mobile version