SportSport

Noordwes Drake: Bekerhoop hang van hierdie naweek se uitslae af

Die sukses van die 2016 seisoen vir Noordweskrieket word grootliks in die vier dae van Donderdag tot Sondag op Senwespark bepaal. Die situasie is dat die WP tans voorloop in Poel A van die Sunfoil Driedagreeks met 107.30 punte.  Noordwes het 106.76. Albei spanne het nog een wedstryd oor: Noordwes tuis teen Noord-Kaap en die …

Die sukses van die 2016 seisoen vir Noordweskrieket word grootliks in die vier dae van Donderdag tot Sondag op Senwespark bepaal.

Die situasie is dat die WP tans voorloop in Poel A van die Sunfoil Driedagreeks met 107.30 punte.  Noordwes het 106.76. Albei spanne het nog een wedstryd oor: Noordwes tuis teen Noord-Kaap en die WP teen KZN vanaf 18 tot 20 Maart.

Dit is ononderhandelbaar: Noordwes moet maksimum punte uit die Driedagwedstryd haal en dan duimvashou dat die WP nie die volgende naweek weer inhaal nie.

KZN, wat nog twee wedstryde oor het, staan ook ‘n buitekans: hulle speel die naweek teen Grens en het dan die wedstryd teen WP. KZN het tans 94.96 punte.

In die Eendagreeks lê Noordwes in die tweede plek met 16 punte en het nog die wedstryd Sondag teen Noord-Kaap oor. SWD loop voor met 17 punte, maar het klaar gespeel. WP is derde met 15 punte. Dit is dus in die reeks ook nodig dat Noordwes al die moontlike punte insamel en dan op naalde en spelde gaan sit en wag vir volgende week.

Noordwes het die talent om vanjaar as wenners uit die stryd te tree in albei formate en maak staat op die ondersteuning van die publiek van Donderdag tot Sondag. Die eindstryd vir die KSA Eendagreeks is op 10 April en die eindstryd vir die Driedagreeks  is vanaf 31 Maart tot 3 April.

Related Articles

Back to top button