Honderd marathons vir ou bekende

Die teerpaaie van die Comrades-marathon ken hom goed. So ook is die paaie van die Longtom-marathon en die Twee Oseane-marathon wat gereeld met sy hardloopskoene in kontak getree het. Vanaf Barberton tot Berlyn en alles tussenin het ’n bekende Potchefstromer al duisende kilometers kafgedraf en onlangs 100 standaard marathons (42.2 kilometer) voltooi. Die eindstreep van …

Die teerpaaie van die Comrades-marathon ken hom goed. So ook is die paaie van die Longtom-marathon en die Twee Oseane-marathon wat gereeld met sy hardloopskoene in kontak getree het. Vanaf Barberton tot Berlyn en alles tussenin het ’n bekende Potchefstromer al duisende kilometers kafgedraf en onlangs 100 standaard marathons (42.2 kilometer) voltooi. Die eindstreep van die Ottosdal-marathon het die eeu op 16 Februarie vanjaar volmaak.

Izak Smalman (70) en die paaie van die wêreld het ’n lang geskiedenis – een wat hy noukeurig by die kilometer van boekhou.

Elke kilometer het hy met die jare opgeteken. Die ervarings kan ’n mens sommer dadelik in sy maer lang lyf sien.

Van sy medaljes is ook geraam teen die huis se mure, wat sy passie en toewyding vir die sport uitbeeld wat hy al die afgelope 30 jaar beoefen. Iets wat wel nie sonder ’n paar stampe en stote was nie. “Daardie medaljes het ek alles verower voor my ongeluk.

Izak Smalman in aksie tydens die 2003 Comrades Marathon.

 

Daar was ‘n tyd waar my vrou gedink het dat ek nie weer sou hardloop nie, toe sit sy my medaljes teen die muur,” vertel hy terwyl hy delf in sy geheue na ’n gebeurtenis wat sy passie amper verkrummel het. “Ek het met ’n perd op die teerpad geval, waarna die perd toe op my been geval het. Ek het my been gebreek en amper vergruis, maar na twee jaar het ek weer begin draf. My een been is wel korter as die ander een.” Dit is hier waar Smalman sy bekende “loop en val” hardloopmetode aangeleer het. “As ek agter iemand kom hoef hy nie eers agter hom te kyk nie, hy hoor sommer reeds dis ek!”

Smalman se ywer vir die lang pad het wel eers in 1986 in ongewone omstandighede begin, waar een keuse sy lewe ’n nuwe identiteit gegee het. “Ek het heel toevallig begin met ‘n 12 kilometer bergwedloop in Waverley, Pretoria vir my kerk. Daar was ’n keuse om te help met die organisasie  of om te hardloop en toe kies ek die laaste opsie,” vertel hy.

Na ’n suksesvolle wedloop het Smalman aan standaard-marathons en verskillende wedlope begin deelneem en het nou al 17 Comrades- en 10 Twee Oseane-marathons op sy kerfstok. “Ek het lank vir die Polisiemarathonklub en vir die McArthurklub gehardloop en was tot al in Berlyn vir ‘n wedloop, wat een van my beste herinneringe en belewenisse was. Met draf het ek die wêreld gesien en dit is iets waarvoor ek so dankbaar is,” sê hy. Buiten die Comrades het Smalman ook twee 160 kilometer ultramarathons in die nag voltooi. Dit sluit ook  die uitdagende Laeveldse Longtom- marathon in Sabie  in “ook iets afgryslik is,” meen hy.

Tog vat Comrades die kroon vir die mees uitdagende ultramarathon onder die son. “My eerste 12 Comrades het ek almal onder nege ure voltooi met ’n  beste tyd van 7 ure en 30 minute vir ’n silwer medalje. Dit raak elke jaar moeiliker,” sê Smalman wat na jare se toewyding in 2003 met ’n permanente Comradesnommer vereer is.

“By die Comrades het ek al gesien dat ’n man so moeg is dat hy Coke op sy kop gooi en die water drink, in plaas van om dit andersom te doen. Dit was vir my baie komies gewees.

Daar is ook altyd baie grappe by die beginpunt, maar later raak dit stelselmatig stiller,” glimlag hy. Om marathons te hardloop sit wel nie in almal se broek nie en vir ‘n ervare drawwer bied elke wedloop steeds ’n massiewe uitdaging waar liggaam, gees en siel saamwerk om oor die eindstreep te kom.

“Eers is ’n mens kwaad omdat jy so sukkel en moeg is. Jy besef dat dit net jou eie keuse was om nou hier te wees,  ’n mens kan nie anders as om klaar te maak wat jy begin het nie. ’n Mens beleef die nabyheid van jou Skepper as dit net jy en die pad voor jou is.

Die lekkerste van enige wedloop is beslis as jy dit voltooi.” Smalman dink ook dat hy wel nog op sy ouderdom hardloop omdat hy so laat begin het. “Ander ouens is al moeg en klaar op 50, maar omdat ek laat begin het, het ek nog krag in my. Ek kyk nie na kwantiteit nou nie, maar na die kwaliteit op die pad,” sê Smalman, wat tans vir Berts Bricks Atletiekklub hardloop en elke oomblik daarvan geniet.

“Toe my twee dogters saam met my begin hardloop het, het ek soveel meer vreugde gekry. Ek het besef dat hardloop nie net wen teen alle koste is nie, maar dat dit geniet moet word.”

“Die belangrikste is om nooit tou op te gooi nie. Ek het nie baie talent nie en is ’n bewys dat enige iemand kan deelneem. Ek dink wat my onderskei is my aantekening van elke kilo.” Daardie bene mag dalk ‘loop en val’ maar hulle sal aanhou tot by die eindstreep.

So lank as wat die lug blou is.

Izak Smalman is tans op 70 nog steeds aan die draf en geniet elke oomblik daarvan.
Exit mobile version